Benewens al die ander rolle wat vroue vervul, het hulle toenemend die finansiële besluitnemers in hul gesinne geword. In dieselfde dag kan ‘n vrou van ma-wees na chauffeur, sjef, huishoudster en vandaar na boekhouer beweeg, dit alles terwyl sy steeds haar beroep beoefen en haar eie besigheid bestuur.
Dit is ‘n mondvol, maar wat jy ook al doen, moenie toelaat dat jou geldbestuur agterweë bly nie. Dit is noodsaaklik om altyd op die hoogte te bly van waar en hoe jou geld tans spandeer word, tot watter beleggings jy bydra en of daar ‘n volhoubare bedrag by aftrede beskikbaar sal wees.
Die eerste stap behoort ‘n kort besoek aan ‘n finansiële adviseur te wees vir leiding en advies oor hoe om jou geld te bestuur en om te verseker dat jou geld op die lange duur vir jou te werk.
Hier is sommige van die vrae wat jy aan jou finansiële adviseur behoort te stel:
1. Wat is my oorhoofse finansiële posisie? Dit is noodsaaklik dat jy weet wat jou netto-waarde is en dat jy deur ‘n omvattende finansiële behoeftebepaling vasstel wat jou oorhoofse finansiële status is. Sonder dié kennis, sal jy nie kan bepaal of jy vordering maak met jou doelwitte nie.
Die vraag word nog belangriker indien jy onlangs ‘n weduwee geword of geskei het. Deur jou huidige finansiële omstandighede bekend te maak, kan jou finansiële adviseur help om die nodige gebeurlikheidsbeplanning te doen vir ingeval jou omstandighede sou verander.
2. Vir watter tydperk behoort ek te beplan of te spaar? Aangesien vroue meestal langer as mans leef, moet hulle daarvolgens beplan. Dit is krities in die besluitnemingsproses saam met jou finansiële adviseur, aangesien jy moet verseker dat jou aftreespaargeld en -inkomste verder strek en langer hou. Hoe dit ook al sy, dit kan ’n uitdaging wees, aangesien vroue oor die algemeen veiliger beleggings met ‘n laer opbrengs kies wat minder groei oplewer. Om dus te verseker dat jou kapitaal nie uitgeput raak nie, moet jy die risiko’s van jou belegging verstaan.
3. Bespreek jou beleggingsprofiel en risikoaptyt Is jy ‘n risikoafkerige belegger of verkies jy beleggings met hoër risiko? Kan jy skommelinge in die markte aanvaar of is jy bereid om oor ‘n langer termyn te belê met ‘n algemene behoud van beleggings? Al hierdie aspekte word bepaal deur jou finansiële situasie en jou finansiële doelwitte. Probeer om by jou beplanning te hou – dit is tog die rede hoekom jy in die eerste plek ‘n plan het.
4. Wat van die koste van beleggings? Jou finansiële adviseur behoort so deursigtig as moontlik te wees ten opsigte van die bekendmaking van fooie en tersaaklike belastings. Dit sluit in enige produk-, portfolio- of adviseursfooie, sowel as aanvanklike en deurlopende fooie. Belasting en fooie verskil na gelang van die beleggingsproduk wat gekies word en dit is noodsaaklik dat die besonderhede aan jou uitgestippel moet word wanneer jy ‘n polis uitneem.
5. Hoe dikwels moet ons ontmoet om die doelwitte van my finansiële plan te hersien?
Dit is ‘n belangrike deel van ‘n goeie, soliede finansiële plan, indien nie dié belangrikste nie! Jy moet jou adviseur gereeld besoek, ten minste een keer per jaar, sodat jou finansiële vordering gemeet en jy op die hoogte van jou belegging kan bly. Só sal jy voortdurend kan evalueer of jou finansiële doelwitte haalbaar is. Jou finansiële adviseur sal ‘n fundamentele rol speel om jou hiermee te help. |