INGESTELDHEID IS TYDLOOS
Ons ingesteldheid het die vermoë om te bepaal of ons vorentoe sal gaan of die aftog blaas, volhard of die handdoek ingooi, oop is vir nuwe geleenthede of vasval in die verlede. Die geskiedenis getuig van so baie “ouer” mense wat buitengewoon presteer het. Motiveer jouself deur die lewens van mense soos Ouma Moses wat in haar 70’s begin skilder het en haar eerste eenvrou-uitstalling op 80 gehou het; Samuel J Hayakawa wat op 70 tot die VSA-Senaat verkies is; en Sadie en Bessie Delaney wat hulle eerste boek (wat ‘n topverkoper was) op 105 en 103 onderskeidelik geskryf het. Laat hulle voorbeeld jou daaraan herinner dat jou beste jare heel moontlik nog voorlê.
HOU AAN DROOM
Dag Hammarskjold, ‘n voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het gesê: “Moet nooit afkyk om die grond te toets voor jy jou volgende tree gee nie: Slegs diegene wat hul oog op die verre horison hou, sal die regte pad vind.” Wees getrou aan jou hoogste verwagtinge en volg jou drome doelgerig. Jy sal jou geleenthede vermeerder en jou hindernisse minder maak.
KOM MET MENING TERUG
Moet nooit toelaat dat enige terugslag jou oorhoofse beplanning en doelwitte in die wiele ry nie. Die lewe is nie ‘n ononderbroke lyn van prestasie tot prestasie nie, maar dikwels twee treë vorentoe en een tree agteruit.
RESPEKTEER JOUSELF
Te veel mense laat ander mense toe om hulle drome en ambisies te vorm en te beïnvloed. “Moet nooit die samelewing se oordeel oor wie jy is of wat jy kan bereik, aanvaar nie,” is die raad van Guy Kawasaki, skrywer van Hindsights: The Wisdom and Breakthroughs of Remarkable People. “Indien jy toelaat dat die samelewing jou in ‘n bepaalde rol giet, sal jy nooit bo dit uitstyg nie. Definieer self wie jy is en wat jy kan bereik.”
Kawasaki sê ook dat die struikelblokke na sukses die heel maklikste uit die weg geruim word indien mense verantwoordelikheid vir hulle eie lewens en suksesse aanvaar. Eer en respekteer voortdurend jou persoonlikheid en temperament. Luister na die stem in jou binneste wat jou aanspoor om ‘n spesifieke rigting in te slaan.
LAG DAAROOR
Wanneer dinge nie uitwerk soos ons verwag nie en ons mismoedig raak, is die beste teenmiddel om ‘n sin vir humor te behou. Dít is noodsaaklik vir ‘n gebalanseerde lewe. Die vermoë om vir jouself en jou omstandighede te lag, verseker dat jy jouself nie te ernstig opneem nie. Trouens, humor verdryf gevoelens van depressie en moedeloosheid en baan die weg vir kreatiwiteit en toewyding.
Laastens, onthou Napoleon Bonaparte se woorde: “Oorwinning behoort aan dié met die meeste uithouvermoë.” Wees jy sélf die bewys daarvan.
|