Stel herinnerings op vir wanneer al jou hernuwings gedoen moet word: Dit kan maklik met elektroniese dagboeke gedoen word, aangesien dit voorsiening maak vir herhalende inskrywings en selfs dagboekinskrywings vir ‘n paar jaar in die toekoms. Dit sal die jaarlikse hernuwing van jou voertuiglisensie, rybewys en hernuwing van jou paspoort insluit.
Die koste: Die boete vir ‘n voertuiglisensie wat verval het, is R500.
Betaal jou rekeninge betyds: Die beste manier om te verseker dat jy betyds betaal, is om debietorders te hê wat jou rekeninge outomaties betaal. Indien jy jou kredietkaart met ‘n debietorder betaal, verbeter dit ook jou kredietgradering.
Die koste: Indien jy jou kredietkaart selfs net een dag laat betaal, kan jy tot ‘n R100 boete bo en behalwe die addisionele rente betaal. Oorgeslane betalings beïnvloed ook jou kredietgradering, wat op sy beurt die koste van krediet opjaag.
Dateer jou besonderhede by die SAID op: Indien jy jou bankbesonderhede verander het, maak seker dat jy jou besonderhede by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens opdateer, aangesien dit die rekening is waarin hulle jou terugbetaling sal deponeer. Indien jy jou bankrekening reeds ‘n paar jaar gelede gesluit het, kon jou bank die nommer aan ‘n nuwe kliënt toegewys het. Indien jou terugbetaling per ongeluk aan iemand anders uitbetaal word, is die SAID nie daarvoor aanspreeklik nie. Dit spreek vanself dat jy nie jou belastingopgawe laat wil indien nie, aangesien dit deesdae beduidende boetes tot gevolg kan hê.
Die koste: Die laat betaling van belasting lei tot ‘n boete van 10% op die uitstaande bedrag.
Gaan jou bankstaat maandeliks na: Aangesien daar ‘n groeiende aantal klagtes oor ongemagtigde debietorders voorkom, is dit belangrik om jou bankstaat elke maand na te gaan en SMS-kennisgewings vir alle transaksies, selfs dié minder as R100, op te stel.
Die koste: Swendelaars trek klein bedrae van ongeveer R100 per maand af, wat nie altyd op jou bankbalans raakgesien word nie.
Verifieer jou kredietrekord: Indien jy dit nog nie gedoen het nie, verifieer jou kredietrekord dié maand. Jy is daarop geregtig om een keer per jaar jou kredietinligting by maatskappye soos Experian of Transunion gratis na te gaan. Deur jou kredietrekord gereeld te verifieer, sal jy agterkom indien daar identiteitsdiefstal was en bedrieërs moontlik jou identiteit gebruik het om kredietrekeninge te open.
Die koste: Die eerste keer wanneer jy ontdek dat jy die slagoffer van identiteitsdiefstal was, kan wees sodra ‘n debietorder vir die motor wat jy nie besit nie, teen jou rekening afgaan!
Sluit rekeninge wat in onbruik is: Indien jy winkelkaarte het wat jy nooit gebruik nie, mag jy vind dat jy betaal vir dienste soos tydskrifklubs of kaartversekering.
Die koste: Klubfooie en kaartversekering kan tot ongeveer R400 in ‘n jaar per kaart oploop.
Benut daardie beloningsprogramme: Indien jou beursie vol beloningskaarte is, maak seker dat jy die voordele ontvang, veral indien dit verval. Indien jy ‘n lid van Liberty se Own Your Life-lojaliteitsprogram is, is jy geregtig op duisende rand se voordele – gebruik dit!
Die koste: Beloningsprogramme dra gewoonlik ‘n koste. Dit kan tot ‘n paar honderd rand per jaar oploop. Kanselleer hulle dus indien jy nie daaruit voordeel trek nie.
Dateer jou begunstigdes op: Indien jou lewe verander het, soos byvoorbeeld deur ‘n huwelik, egskeiding of ouerskap, dateer alle aftrede- en polisbesonderhede sowel as jou testament op. In geval van jou dood is die trustees van jou aftreefonds verplig om jou aftreevoordeel aan jou finansieel-afhanklikes uit te betaal. Indien jy dit nie opgedateer het om byvoorbeeld al jou kinders in te sluit nie, sal dit die tyd verleng wat dit neem om die voordeel uit te betaal.
Die koste: Indien jy nie jou polisse en testament op datum hou nie, sal dit jou afhanklikes beide finansieel en emosioneel raak.
Hersien jou finansiële plan: Indien jy ‘n finansiële adviseur het, behoort jy hom of haar elke jaar as deel van hul diensfooi te ontmoet. Dit is ‘n geleentheid om op datum te bly met jou finansiële doelwitte.
Die koste: Die meeste finansiële adviseurs ontvang ‘n jaarlikse diensfooi, indien jy dus geen diens ontvang nie, is dit tyd om van adviseur te verander. |