Die kantoor se verkoopoutomaat
Het jy al ooit bereken hoeveel jy op die verkoopoutomaat by die kantoor spandeer? Begin dadelik om dit wat jy daagliks spandeer, aan te teken. Al gee jy slegs R20 per dag uit, kos dit jou ongeveer R440 per maand. Indien jy eerder daardie geld belê in ‘n belastingvrye spaarrekening wat die gemiddelde opbrengs van die aandelemark (ongeveer 12%) oor die lang termyn lewer, sou jy oor 20 jaar R435 000 kan hê – asook ‘n kleiner middellyn en ‘n gesonder hart.
Te vinnig ry
Vir elke 10 km/h waarmee jy die spoedgrens oorskry, kan jy ‘n boete van R250 verwag. Deur meer waaksaam op die pad te wees, kan jy die R250 wat jy elke maand spaar byvoeg by jou belastingvrye spaarrekening. Tel dit by jou besparing by die verkoopoutomaat en jou neseier sou in 20 jaar tot R682 000 kan groei.
DStv
Ontleed hoeveel tyd jy regtig TV kyk. Indien jy elke aand en naweke voor die TV vasval, is dit miskien tyd dat jy dié tyd inkort en ‘n boek lees of oefening kry. Indien jy vind dat jy selde kyk, is jy reeds besig om geld te mors. Indien jy van DStv Premium na DStv Extra migreer, sal jy R274 per maand spaar. Voeg dit by die ander besparings in jou belastingvrye spaarrekening en jy behoort R954 000 in 20 jaar bymekaar te kan maak. Dit is bykans R1-miljoen wat jy tans vermors.
Rook
Indien jy ‘n pakkie sigarette per dag rook, spandeer jy ongeveer R1 113 per maand op dié gewoonte. Indien jy ophou rook en eerder daardie bedrag in jou belastingvrye spaarrekening inbetaal, sou jy saam met jou ander spaargeld ‘n massiewe R2-miljoen binne 20 jaar kan spaar.
Uitstellery
Die grootste geldverkwister is om uit te stel om te spaar. Indien jy byvoorbeeld vandag begin om te besnoei by die verkoopoutomaat, minder verkeersboetes ontvang, jou DSTV-pakket afgradeer en ophou rook, sou jy R2-miljoen in 20 jaar kan hê. Indien jy egter uitstel en eers oor 5 jaar begin, sou jy net R1-miljoen kon hê – jou uitstel sou jou ‘n ekstra R1-miljoen gekos het. |