Nogtans, namate jy meer volwasse raak en ouer word, kan jy begin om meer ernstige verbintenisse te maak soos trou, ‘n gesin begin of om jou eerste huis te koop.
Die finansiële besluite wat jy in jou 20’s maak, sal ‘n wesenlike invloed op jou finansiële toekoms hê.
1. Moenie jou maksimum kredietlimiet benut om ‘n motor te koop nie
Vir baie mense is die geleentheid om die motor van hulle drome te koop wanneer hulle begin werk onweerstaanbaar en motorhandelaars is maar te gewillig om hulle te help om al hul kredietfasiliteite uit te put. Dit is eers ná ‘n paar maande se gebruik van die motor dat jy besef dat jy dit eintlik nie kan bekostig nie.
Die maandelikse paaiement is net die helfte van die koste om ‘n motor te onderhou en nuwe motoreienaars begroot nie altyd vir versekering, petrol en algemene bedryfskostes nie. In hierdie stadium besef die nuwe motoreienaar ook dat hulle nie die motor kan verkoop vir die bedrag wat hulle die bank skuld nie.
‘n Motor se waarde verminder sodra jy by die handelaar uitry en indien jy die motor oor ses jaar gefinansier het, sal jy vir die eerste vier jaar meer op die motor skuld as wat dit werd is! Motorfinansiering is ook die belangrikste rede waarom mense nie kwalifiseer vir huislenings nie, aangesien hulle nie verdere krediet beskikbaar het vir ‘n verband nie.
Aksie: Spaar vir ‘n deposito, begroot vir versekering en petrol en finansier die motor oor slegs 48 maande.
2. Begin ‘n noodfonds Die grootste rede waarom mense in skuld beland, is as gevolg van noodgevalle. Dit kan onverwagte mediese uitgawes of hulp aan ‘n familielid wees, of dat jy ‘n bybetaling ná ‘n motorongeluk moet maak. ‘n Noodfonds help jou om die noodgevalle te hanteer sonder om ‘n lening aan te gaan of jou kredietkaart te gebruik.
Jy moet ook ‘n finansiële buffer opbou indien jy jou werk verloor. Verlede jaar het Liberty se statistiek getoon dat die enkele grootste rede vir inkomsteverlieseise deur onder 35’s afleggings was.
Aksie: Werk aan ‘n onmiddellike noodfonds van R10 000 en laat dit oor die termyn groei deur bonusse en meevallers aan te wend, totdat dit ten minste drie maande se maandelikse uitgawes dek.
3. Benut die krag van saamgestelde rente
Hoe jonger jy begin spaar, hoe harder werk jou geld vir jou.
Indien jou geld belê is en teen 10% per jaar groei, sal dit elke sewe jaar verdubbel.
Indien jy R250 per maand tussen die ouderdomme van 24 en 30 spaar en jy staak jou bydraes maar laat die geld groei, sal jy meer bymekaar gemaak het teen ouderdom 65 as iemand wat dieselfde bedrag vanaf ouderdom 35 tot 65 spaar.
Dit is aangesien ‘n belegging met ‘n 10% opbrengs elke sewe jaar verdubbel. Dus sal die R18 000 wat jy teen ouderdom 30 belê het, groei tot R815 000 teen ouderdom 65.
Die R90 000 wat jy sou belê het tussen die ouderdomme 35 en 65 sal nie dieselfde groeigeleentheid hê nie en sal net R570 000 werd wees.
Aksie: Maak seker dat jy vanaf jou eerste salaris in jou maatskappy se aftreefonds of ‘n uittree-annuïteit begin spaar.
4. Beskerm jou grootste bate
Terwyl jy jonk en gesond is en geen finansiële afhanklikes het nie, lyk lewensversekering na ‘n onnodige uitgawe. Wat jy dalk nie besef nie, is dat jou grootste bate op daardie ouderdom jou toekomstige inkomste is. Indien jy byvoorbeeld R20 000 op die ouderdom 25 verdien en sou jy nooit ‘n verhoging bo die inflasiekoers kry nie, sou jy op ouderdom 55 teen vandag se waarde R7,2 miljoen verdien het. Dit is ‘n noemenswaardige bate en jy behoort te beplan vir enige iets wat jou kan verhoed om ‘n inkomste te verdien.
Aksie: Praat met jou makelaar oor dekking teen ongeskiktheid en gevreesde siektes.
5. Vermy wentelkrediet Vanaf jou eerste salaristjek sal kredietverskaffers jou ongeveer R3 000 se krediet aanbied vir elke R1 000 wat jy verdien. Die versoeking is groot om hierdie kredietfasiliteit te benut, maar dit kan jou finansieel ruïneer, veral indien jy op wentelkrediet soos ‘n kredietkaart of oortrokke bankrekening besluit. Wentelkrediet is ‘n kredietfasiliteit wat altyd beskikbaar is en nooit ten volle vereffen hoef te word nie. Sodra jy een paaiement betaal, is daardie krediet weer beskikbaar. Talle mense beland in die situasie waar hulle salaris doodeenvoudig elke maand gebruik word om hulle oortrokke fasiliteit te vereffen en hulle leef maandeliks op krediet. Hulle is in werklikheid een salaris weg van bankrotskap.
Aksie: Indien jy ‘n kredietkaart uitneem, betaal altyd die volle bedrag aan die einde van die maand en vermy oortrokke fasiliteite. Leer om binne jou inkomste te leef. |