Hoeveel van ons is voorbereid vir die realiteit om ons ouers tydens hulle aftrede te onderhou?
Die Liberty finansiële adviseur Phillip Kassel weet presies wat dit beteken om deel van die toebroodjie-generasie te wees. Hy onderhou beide sy kinders en sy afgetrede ouers op ‘n maandelikse salaris. “Ek het ‘n seun op universiteit en onderhou ook my ouers, wat enorme finansiële druk op enige huishouding plaas,” sê Kassel, wat byvoeg dat dit die realiteit is wat die meeste van sy kliënte in die gesig staar.
Die probleem, sê Kassel, is dat finansiële beplanning meesal gebaseer is op die idee dat daar ‘n tyd sal kom wanneer jou verband afbetaal is, jou kinders uit die huis is en jy kan konsentreer om vir jou aftrede te spaar.
Die realiteit is egter grootliks verskillend. Die meeste ouers verskaf deesdae oorbruggingsfinansiering aan hulle kinders in die periode nadat hulle hul studies voltooi het en voordat hulle werk kry, terwyl hulle hul afgetrede ouers wie se aftreegeld opgedroog het, onderhou.
“Wanneer jy ‘n finansiële plan saamstel, moet jy faktore buite die voldoening aan die onmiddellike behoeftes van jou naaste familie in ag neem, wat insluit om te beplan om jou kinders langer te onderhou en moontlik jou ouers ook,” sê Kassel.
Vier maniere om die toebroodjie-generasie te oorleef:
Kry die regte mediese dekking: Maak seker dat jy ‘n mediese plan het wat spesiale afhanklikes toelaat. Dit sal jou ouers asook volwasse kinders insluit.
Hersien jou lewens- en ongeskiktheidsdekking: Jou lewensdekking moet voldoende wees om nie net ‘n inkomste aan jou eggenoot en kinders te verskaf nie, maar ook aan enige ouers wat finansieel van jou afhanklik is. Dieselfde geld vir ongeskiktheidsdekking, sou jy nie ‘n inkomste kan genereer nie.
Oorweeg lewensdekking bo begrafnisversekering: In plaas daarvan om ‘n begrafnispolis vir jou ouers uit te neem, oorweeg eerder lewensdekking teen dieselfde premie. Jy sal ‘n beduidend hoër uitbetaling vir elke rand premie uit die lewenspolis ontvang – en die opbrengs kan gebruik word vir beide die begrafnis asook om kapitaal te genereer vir die oorlewende eggenoot – wat die finansiële las op jou kan verlig. Liberty betaal R50 000 van die versekerde bedrag binne 48 uur uit om begrafniskoste te dek.
Belê vir groei: Dit is moeilik genoeg om uit jou salaris vir jou eie aftrede voorsiening te maak sonder dat jy moet voorsien in die behoeftes van volwasse kinders en ouerwordende ouers. Jou geld moet baie harder vir jou werk. Jy kan nie bekostig om in konserwatiewe, lae groei beleggings te bly nie. Indien jy ‘n beleggingsperiode van meer as vyf jaar het, moet jy in aandele belê – nie in kontant nie. Dit is die enigste manier om die toebroodjie-generasie te oorleef.