Met plaaslike markte wat nuwe hoogtes bereik, vra baie beleggers vanselfsprekend of dit ‘n goeie tyd is om een groot bedrag te belê.
Volg wêreldmarkte
Eerstens, markte is baie soos ‘n trop skape – hulle neig om mekaar te volg. Wêreldwyd het ons sedert die begin van die jaar ‘n herstel van wêreldmarkte gesien wat die verliese wat ons in die tweede helfte van 2014 ervaar het, omkeer. Die herstel kom meestal vanuit die Verre Ooste en Europa.
Japan het, na jare van stagnasie, skerp versnel en lei die herstel van ontwikkelde markte. Hierdie kragdadigheid kan gedeeltelik toegeskryf word aan Japannese pensioenfondse wat hulle blootstelling aan aandele verhoog het om opbrengste te verbeter. Beleggers voorsien ook ‘n oplewing in die ekonomie sowel as in maatskappyverdienste en ‘n verbetering in die houding teenoor aandeelhouers.
Europa is ook besig om op dreef te kom na ‘n swak 2014. Tans is die enigste swak skakel die VSA-mark aangesien beleggers bekommerd is dat die sterk VSA-dollar verdienste kan beïnvloed na gelang Amerikaanse maatskappye minder kompeterend raak.
China neem die leiding
China, wat opkomende markte oorheers met 23% van die MSCI-indeks van ontluikende markte, het oor die afgelope jaar ‘n massiewe 100% opwaarts beweeg , selfs in VSA-dollar terme.
Tot onlangs is Chinese beleggers slegs toegelaat om in maatskappye wat op die Shanghai-aandelemark gelys is te belê, terwyl buitelanders in dieselfde maatskappye belê het, maar waar hulle in Hongkong op die Hangseng gelys is. As gevolg hiervan het dieselfde maatskappy teen ‘n noemenswaardige korting in China verhandel. Noudat die Hongkong-aandelemark vir meer beleggers uit die Chinese vasteland oop is, het Chinees-gelyste maatskappye drasties toegeneem, en sluit hulle korting op Hangseng-pryse op ongeveer 20%, wat snelle aandeelprysbeweging tot gevolg het.
Ten spyte van hierdie meteoriese groei, is die Chinese aandelemark nie in ‘n borrelfase nie en toon dit steeds waarde, anders as waardasies in sy eiendomsmark wat ‘n bekommernis met betrekking tot ‘n potensiële borrel raak.
Die bekommernis is dat die ontluikende markte se herstel miskien eerder ‘n tydelike oplewing as ‘n ware herstel is, aangesien talle ontluikende markte se ekonomieë steeds onder druk is, veral Brasilië en Rusland. Onthou, soos Suid-Afrika, steun hierdie ontluikende markte swaar op die uitvoer van kommoditeite en solank kommoditeitspryse onder druk is, sal hierdie ekonomieë nie aan die gang kom nie. Indië wat sterk groei, is die enigste uitsondering aangesien hulle minder steun op die hulpbronnesiklus.
Gemengde perspektief op Suid-Afrika
Dus, om terug te kom na ons markte – fondsbestuurders is bekommerd dat JSE-gelyste maatskappye duur voorkom, veral wanneer dit met ontwikkelde markte vergelyk word.
Die teenoorgestelde perspektief is dat Suid-Afrika, teenoor ontwikkelende lande, een van die voorkeuropsies vir beleggers bly. Buitelandse fondsbestuurders is oor die algemeen baie beïndruk met Suid-Afrikaanse maatskappye wat steeds goed bestuur word en uitstekende dividendopbrengste toon met indrukwekkende winsmarges in die opbrengs op aandele. Byvoorbeeld, ‘n buitelandse pensioenfonds kan in veilige Duitse staatseffekte gehou word teen 0.11% of hulle kan Foschini’s in Suid-Afrika koop en 3% dividende verdien. Die rand was hierdie jaar baie swak, maar begin herstel. Buitelandse beleggers kan dus voortgaan om die waardasies van Suid-Afrikaanse maatskappye hoog te hou.
Om die argument nog verder te verwar, is dit die moeite werd om te onthou dat daar nie in die laaste 3.5 jaar ‘n markregstelling van meer as 10% in die VSA was nie. Histories sien ons hierdie soort regstelling elke twee jaar, dus kan ‘n mens argumenteer dat die VSA in lyn is vir ‘n regstelling. Voeg by hierdie argument dat die periode van Mei tot September histories ‘n swakker periode vir aandelemarkte is (derhalwe die gesegde: “Sell in May and go away, come back on St Legers Day”) en dat daar ‘n goeie argument ten gunste van ‘n noemenswaardige markregstelling vroeër eerder as later is.
Beleggingstrategie in onseker tye
Gegewe hierdie mengelmoes van inligting, hoe behoort ‘n mens jou beleggingsportefeulje te benader?
As ‘n algemene riglyn, om jou tydstip van belegging in die aandelemark te bepaal aan die hand van geskatte hoogte- en laagtepunte eindig gewoonlik net in trane. Jy behoort eerder te fokus op jou eie beleggingsperiode. Indien jy minder as vyf jaar het om in die markte te belê, sal jy lae risiko, lae aandele blootstelling kies. Indien jy daarteenoor ‘n 20-jaar horison het, sal wat oor die volgende jaar gebeur baie min effek op jou totale opbrengs oor daardie periode hê.
‘n Langtermynbelegger wat bekommerd is oor huidige marktoestande kan eerder as om in die kontantmark te bly en bes moontlik toekomstige markgroei mis te loop, die reeks risiko-aangepaste fondse wat deur Stanlib en Liberty aangebied word oorweeg, veral dié wat ‘n mate van buitelandse blootstelling bied.
‘n Belegger wat tipies ‘n meer agressiewe beleggingsportefeulje sou hê, kan byvoorbeeld belê in ‘n matig konserwatiewe fonds met ‘n 38% blootstelling aan aandele. Sou ons ‘n markregstelling sien en die mark meer waarde bied, sal die geleentheid daar wees om na ‘n meer agressiewe fonds te beweeg.