Wanneer jy die eerste keer ‘n ouer word, is die eerste ding wat jy leer die ware betekenis van opoffering en onselfsugtigheid.
Voordat jy geld op jouself spandeer, soos op luukshede, of selfs jouself betaal, soos om te spaar, maak jy eers seker dat jy genoeg het om vir doeke, rome, babakos en, baie belangrik, daardie duur besoeke aan die pediater te betaal.
Verdere druk op jou finansies, veral indien jy in ‘n vooruitstrewende gemeenskap woon, is die skielike behoefte om jou weekoud baba in te skryf vir al die klasse wat jou vriende se babas bywoon – kindermusiek, klouterklub, ma’s en babas – die lys gaan net aan en aan.
Terwyl jy jou vriende wat reeds kinders het gespot het oor hierdie duur en “onnodige” ekstras, begin jy, wanneer jy ‘n ouer word, jou skielik bekommer dat jy jou kinders ontneem van ‘n goeie voorsprong in die lewe indien jy hulle nie aan dié soort stimulasie blootstel nie. Jy begin jou bekommer dat hulle sal agter raak by hulle portuurgroep. Gek, maar waar.
Verder moet ons as werkende ma’s dink aan die koste van kindersorg wanneer ons terugkeer werk toe. Neem ons ‘n voltydse oppasser in diens, of gebruik ons ‘n 06:00 – 18:00 crèche? Of probeer ons vir fleksietyd of korter werksure onderhandel – wat dikwels lei tot salarisherstrukturering, met minder geld – ook dit wat vir aftrede gespaar word.
‘n Ander aspek wat ‘n nuwe ouer nie kan ignoreer nie, is die koste van opvoeding en die noodsaaklikheid om te begin spaar. Glo my, daar is selfs brosjures wat op strategiese plekke in die spreekkamers van ginekoloë geplaas word om verwagtende ouers in te lig oor hoeveel miljoene hulle op private opvoeding sal moet spandeer.
Die enigste manier om hierdie finansiële moeras te oorleef, is deur te beplan. Wanneer jy ‘n ouer word, is dit die perfekte tyd om ‘n finansiële beplanner te besoek en jou finansiële plan te hersien:
Om jou kind te versorg
Hersien jou mediese dekking: Terwyl ‘n eenvoudige hospitaalplan moontlik goed genoeg was vóór ouerskap, sal jy nadat jy ‘n kind het die dokter meer gereeld moet besoek. Kies ‘n mediese plan wat steeds besoeke aan algemene praktisyns sal betaal, al is jou dag-tot-dag spaarplan uitgeput.
Stel ‘n testament op: ‘n Testament bied jou die geleentheid om ‘n voog vir jou kinders aan te stel sou albei ouers sterf. Jy mag verkies om vir jou kinders voorsiening te maak deur die skep van ‘n testamentêre trust. Dit stel jou in staat om die trustees wat die fondse namens jou kinders moet bestuur, te nomineer. Jy kan ook sekere instruksies met betrekking tot die verspreiding van inkomste en kapitaal gee. Jy moet ook die begunstigdelys op jou maatkappy se aftreefonds opdateer.
Hersien jou lewensversekering: Lewensversekering is ‘n bekostigbare manier om seker te maak dat kontant geredelik beskikbaar is wanneer jou afhanklikes dit die nodigste het. Maak seker dat jy voldoende dekking het om vir jou kind se opvoeding te betaal indien jy as gevolg van dood of ongeskiktheid nie langer in staat is om dit te doen nie.
Berei voor vir hulle opvoeding: Of jy droom van ‘n private skool, ‘n universiteitsgraad of vioollesse, indien jy geld beskikbaar het wanneer jy dit nodig kry, sal die droom net makliker verwesenlik kan word. Hoe gouer jy begin spaar, hoe vinniger sal jou spaargeld groei.
Die effek van saamgestelde rente, of rente verdien op rente, behoort nooit onderskat te word nie.
Om vir jouself te sorg
Die beste geskenk wat jy jou kind kan gee, is om finansieel onafhanklik te wees en nie tydens jou aftrede van hulle afhanklik te wees nie.
Moenie op jou kinders oorspandeer en so finansiële druk veroorsaak nie: Om jou spaargeld uit te put sodat jy vir jou kind die bes moontlike verjaarsdagpartytjie kan gee, het baie meer as net finansiële gevolge. Die beste verjaarsdaggeskenk wat jy vir jou kinders kan gee, is om hulle van ‘n omgewing sonder finansiële stres te voorsien. ‘n Verjaarsdagpartytjie of ‘n duur geskenk sal binne ‘n paar maande vergete wees, maar finansiële spanning kan ‘n kind se langtermyn-welstand beïnvloed.
Moenie jou aftreegeld vir kraamverlof gebruik nie: Jy mag in die versoeking wees om jou werk te bedank en die kontant in jou aftreefonds te gebruik om meer tyd saam met jou kind in sy vroeë jare deur te bring. Dit sal jou vermoë om af te tree, benadeel. Pas liewer jou leefstyl aan en kry maniere om inkomste te genereer deur van die huis af te werk.
Verseker dat jy dekking teen gevreesde siektes het: Eise-statistiek vir gevreesde siektes toon dat veral borskanker jonger vroue raak. Selfs al is jy ‘n tuisblyma, sal jy ondersteuning nodig hê indien jy ernstig siek raak.
Skep ‘n vakansiefonds: Vakansies is belangrik vir families om tyd saam deur te bring en om spesiale herinneringe te skep. Spaar liewer elke maand iets om daardie vakansieherinneringe stresvry moontlik te maak as om kredietkaartskuld te maak.