Depressie: die geheime siekte

Dr Philippa Peil: Liberty Mediese Adviseur

Depressie by vroue ‘n groter risiko: slaan ag op die simptome

Sedert die tyd van Hippocrates in antieke Griekeland is mense reeds bewus van ’n groep simptome wat as swartgalligheid of depressie geëtiketteer word. Deesdae gebruik mense alte maklik die term ‘ek is depressief’ terwyl hulle eintlik net vies is, ’n eksamen gedruip het of nie die betrekking aangebied is wat hulle graag wou hê nie.

Hierdie soort struikelblokke is alledaagse ervarings, terwyl kliniese depressie ‘n groep fisieke en sielkundige simptome behels, waarvan die vernaamste een neerslagtigheid is wat langer as twee weke kan duur.

Depressie is ‘n redelik algemene versteuring. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se skatting is dat 350 miljoen mense wêreldwyd in 2012 aan depressie8 gely het. In die algemene bevolking sal 1 uit elke 4 vroue simptome van depressie ontwikkel wat behandeling vereis, terwyl slegs 1 uit 6 of 1 uit 10 mans (afhangende van die verwysing) gedurende hul leeftyd die simptome sal ontwikkel.

Vanweë die stigma wat aan die diagnose van depressie kleef, sal party mense met depressie huiwer om mediese aandag daarvoor te soek. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) het in 2013 geskat dat slegs 16% van die mense in Suid-Afrika wat aan ’n geestessiekte ly, behandeling daarvoor ontvang.

Depressie kan langdurig of herhalend wees en kan ‘n individu se vermoë om werks- en daaglikse uitdagings die hoof te bied, negatief beïnvloed. Ten ergste kan depressie tot selfmoord ly, met dié dat die selfmoordneiging by mense met depressie 20 keer hoër is as dié van die algemene bevolking.

Is jy ‘n moontlike risikogeval?

    Sekere groepe mense val in hoër risiko-kategorieë om depressie te ontwikkel:
  • Vroue, veral na die geboorte van ‘n baba en gedurende die menopouse
  • Mense met ’n familiegeskiedenis van depressie in ’n ouer, broer of suster
  • Diegene met ’n geskiedenis van vorige episodes van depressie
  • Mense wat in alkohol- of dwelmmisbruik vasgevang is

Beduidende spanningsvolle lewensgebeure, wat byvoorbeeld siektes soos chroniese mediese toestande en neurologiese versteurings soos breintrauma, demensie en Parkinson se siekte insluit, word almal met ‘n verhoogde risiko en vatbaarheid vir depressie geassosieer.

Depressie word algemeen aangetref in mense met kanker, harttoestande en/of versteurings van die immuunstelsel soos sistemiese lupus eritematose en rumatoïede artritis. Depressie wat met hierdie mediese toestande geassosieer word, kan die uiteinde van daardie mediese toestand vererger en die sterfterisiko, asook die risiko van selfmoord vanweë die mediese toestand vergroot.

Die afwesigheid van familie- of maatskaplike ondersteuningstrukture, soos ‘n gebrek aan vriende en voortdurende eensaamheid kan die risiko van depressie by iemand verhoog.

Seisoenale affektiewe versteuring is major depressie wat saam met die seisoene van die jaar wissel. Droefheid kan major depressie in 15% tot 35% van persone inisieer.

Is jy depressief, of beleef jy net ‘n slegte dag?

Major depressie word gediagnoseer wanneer minstens 5 van die volgende simptome tegelykertyd teenwoordig is en vir minstens 2 weke voortduur:

  • Gewigsverlies of –toename
  • Slaaploosheid of uitermatige slaperigheid
  • Gebrek aan belangstelling in plesier of ontspanningsaktiwiteite
  • Weemoedigheid vir die grootste deel van die dg. Hierdie simptoom moet in alle gevalle teenwoordig wees vir ’n diagnose van depressie
  • Rusteloosheid of traagheid van beweging
  • Terugkerende vrees vir dood, of selfmoordgedagtes
  • ’n Gevoel van nutteloosheid, ontoereikendheid of hopeloosheid
  • Swak konsentrasie en ’n gebrek aan selfvertroue

Hierdie simptome kan verder verdeel word in ligte, matige of erge gevalle. Met ligte depressie sal ’n individu in ’n mate sukkel met daaglikse en sosiale bedrywighede, terwyl iemand met erge depressie ’n baie beperkte vermoë sal hê om by sulke bedrywighede betrokke te wees.

Is depressie behandelbaar?

Ligte depressie kan gewoonlik deur ‘n algemene praktisyn behandel word, terwyl erger vorme van depressie die betrokkenheid van ‘n spesialis kan vereis. Behandelingsmetodes wat beskikbaar is, sluit antidepressante medikasie en kognitiewe gedragsterapie in.

As die depressie erg is en reeds lank voortduur, sal ‘n dokter ‘n kursus antidepressante voorskryf wat die pasiënt behoort te help om die alledaagse lewe beter te hanteer. Hoewel antidepressante nie kalmeermiddels is nie, sal hulle ’n pasiënt ook help om minder angstig en rusteloos te voel.

Kognitiewe gedragsterapie help om skadelike gedagteprosesse en gedragspatrone te identifiseer en om nuwe, meer hulpvaardige maniere te identifiseer om die pasiënt met die hantering van lewensuitdagings te help.

Sal depressie my versekeringsdekking raak?

Depressie is ‘n ingewikkelde versteuring en is derhalwe in die algemeen vir ‘n versekeraar moeilik om te assesseer. Soos met alle versteurings tydens die onderskrywingstadium, geld dit dat hoe meer betroubaar die inligting is wat die onderskrywer ontvang, hoe meer voordelig sal die besluit vir die applikant wees.

Die meeste versekeringsmaatskappye sal vereis dat sowel die applikant as die applikant se dokter ‘n vraelys met betrekking tot die depressie invul.

Hieronder is sommige van die faktore wat ‘n onderskrywer in ag sal neem wanneer ’n kliënt met depressie onderskryf word:

Gunstig

Ongunstig

Stabiele persoonlikheid

Gedragspatrone, geskiedenis van geweld

Stabiele tuiste en werksomgewing

Werks- of finansiële probleme

Goeie maatskaplike ondersteuning; geen klaarblyklike huweliks- of verhoudingsprobleme

Huweliks- of familieprobleme, familiegeskiedenis van geestessiektes

Onberispelike gewoontes

Alkohol- of dwelmmisbruik, swak voertuigbestuursrekord

Geen onderliggende fisieke kwaal of ander psigiatriese probleme

Chroniese siekte of wat ongeskiktheid vir werk veroorsaak, ander psigiatriese probleme

Geen selfmoordpogings

Selfmoordpogings

Getroue instandhouding van gesondheid

Gereelde besoeke aan ‘n psigiater

Sal my versekering vir depressie uitbetaal?

Die assessering van eise is net so uitdagend soos om die risiko ten tyde van onderskrywing te assesseer, veral omdat daar geen spesifieke toetse gedoen kan word om die diagnose te bevestig nie.

Die eiser sal die versekeringsmaatskappy van voldoende inligting moet voorsien vir die assessering van die eis teen die voorwaardes van die produk. Dit kan ’n mediese verklaring van die behandelende dokter insluit, naamlik ’n psigiater, wat onder meer ’n diagnose, die behandeling wat die eiser mag ontvang, die reaksie op behandeling en toekomstige behandelingsopsies kan insluit – om maar enkeles te noem. Die afhandeling van eise kan ’n lang, uitgerekte proses wees omdat die versteuring verskeie wysigings in die behandeling mag vereis. Indien ’n enkelbedrag ongeskiktheidseis betrokke is, mag werksbesonderhede ook vereis word.

Ten slotte is depressie nòg ’n maklike diagnose om te maak, nòg ’n maklike versteuring om mee saam te leef. Vir die versekeringsbedryf verteenwoordig dit ’n groeiende persentasie van uitbetaalbare eise en is dit vir sowel die onderskrywers as die eisers ’n uitdaging.