Toerisme, Suid-Afrika se suksesverhaal

Deur Kevin Lings, hoofekonoom, STANLIB

Toerisme is een van ons vinnigs groeiende nywerhede hoewel steeds in sy babaskoene

Sedert 1994 het die bedrag geld wat jaarliks deur toeriste in Suid-Afrika bestee word, met 15% per jaar toegeneem. Hierdie groei is heelwat meer as enige Rand-swakheid en beteken dat hoewel die swakker Rand meegehelp het aan die groter invloei van buitelandse geld, dit tog nie die grootste dryfkrag agter die groei in die toerismebedryf was nie.

Die kombinasie van ‘n aantal faktore het gehelp om Suid-Afrika se toerismegetalle oor die laaste 20 jaar op te stoot. Hierdie faktore sluit onder meer ’n wêreldwye groei in buitelandse reis in (veral uit Asië en Afrika), Suid-Afrika se bewese vermoë om groot internasionale sportgeleenthede aan te bied, die land se insluiting in die G20 sowel as die BRICS wat sy internasionale profiel ’n hupstoot gegee het, die land se uitstekende wildparke en natuurreservate, asook die feit dat Tafelberg in 2011 as een van die Nuwe Sewe Wonders van die Natuur ingestem is.

‘n Gasheer-land

Suid-Afrika het sedert 1994 talle internasionale sportgeleenthede aangebied, waaronder die 1995 Rugby-Wêreldbeker, die 1996 Afrika Nasies-reeks, die 2003 Krieket-Wêreldbeker en die 2009 FIFA Konfederasiebeker.

Dit is egter die suksesvolle aanbied van die 2010 FIFA Wêreldbeker wat Suid-Afrika se vermoë beklemtoon om te beplan, te koördineer, te bou en ’n groot internasionale geleentheid te reël. Na die toernooi het FIFA verklaar dat die aanbied van die geleentheid in Suid-Afrika klaarblyklik ’n reuse-sukses was. Kritici het gevrees dat die land se hoë misdaadsyfer en gebrek aan openbare vervoer die internasionale sokkerkampioenskap in die wiele sou ry, maar hierdie vrese het nie gematerialiseer nie.

In ‘n onafhanklike evaluasie het 83% van die besoekende internasionale sokkergeesdriftiges die voorneme uitgespreek om terug te keer na die land, terwyl 94% gesê het hulle sal Suid-Afrika met graagte by hul vriende en familie as ’n toeristebestemming aanbeveel.

In Mei, Junie en Julie 2010 het die aantal buitelandse besoekers aan Suid-Afrika (meer spesifiek diegene wat gevlieg het) ’n indrukwekkende 1.062 miljoen getel. Natuurlik het nie almal gekom om die Wêreldbeker by te woon nie. In die ooreenstemmende drie maande - tydperk in die vorige jaar het Suid-Afrika egter net 555 000 buitelandse besoekers getrek. Selfs al maak ’n mens ’n aanpassing vir die feit dat reissyfers wêreldwyd in 2009 vanweë die ekonomiese resessie beduidend gedaal het, kan ’n mens geredelik tot die slotsom kom dat Suid-Afrikaanse toerisme aansienlik baat gevind het by die geleentheid ten tyde daarvan. Nog belangriker is die feit dat die land se toerisme-inkomste sedert die einde van 1993 met meer as 1 600% gestyg het – al was dit wel vanaf ‘n relatief lae basis.

2014 klop selfs die Wêreldbeker toevloei Hoewel toerisme in die jaar na die Wêreldbeker skerp gedaal het – hoofsaaklik vanweë die swak ekonomie wêreldwyd, het toerisme in die afgelope jare weer dramaties verbeter.

In die eerste kwartaal van 2014 het toeriste ’n aansienlike R96.5 miljard bestee, wat loshande die hoogste vlak is wat ooit aangeteken is en wat selfs die vlakke van reisinkomste wat gedurende die jaar van die Wêreldbeker opgelewer is (nie minder nie as R66.4 miljard) by verre oorskry het.

Ondanks hierdie suksesse is Suid-Afrika se vlak van toerisme steeds relatief laag vergeleke met die wêreldgemiddeld; maar dit bly steeds ’n potensiële en belangrike bron van groei vir die land – veral aangesien dit ’n relatief arbeidsintensiewe nywerheid is. Met die belangrike grondwerk wat deur genoemde suksesfaktore gedoen is, is die Suid-Afrikaanse reis- en toerismenywerheid gereed om in komende jare een van ons grootste bronne van inkomste te word.