Moet ons bekommerd wees?

Deur Paul Hansen, Direkteur Kleinhandelbeleggings, STANLIB

Terwyl die JSE se Alle Aandele-indeks nuwe hoogtes bereik wat deur 50 000 breek, waarsku ekonome dat daar ’n ekonomiese resessie ophande is. Is dit tyd om kontant te maak?

Hoewel ’n mens geneig sou wees om te dink dat ‘n aandelemark ‘n goeie weergawe sal wees van ‘n land se ekonomie, is daar in werklikheid geen statistiese korrelasie tussen aandelemarkwaardes en ekonomiese groei nie. ’n Goeie vergelyking is China, wat oor die afgelope 20 jaar ongekende groei getoon het, terwyl beleggers in Chinees gelyste maatskappye sedert 2001 ‘n feitlik zero opbrengs gehad het.

Die manier waarop ‘n maatskappy bestuur word en die vermoë van beleggers om die bestuur te vertrou, is dikwels belangriker as ekonomiese groei. Een van die hoofredes vir China se flouerige vertoning is dat daar kommer bestaan oor swak korporatiewe bestuur, sowel as oor die voortgesette eienaarskap van groot maatskappysegmente deur die Chinese regering.

Suid-Afrikaanse maatskappye, daarenteen, word in ‘n gunstige lig beskou. Die peil van ons korporatiewe en maatskappybestuur word die hoogste geag van alle opkomende markte: beleggers verkies maatskappye wat hulle verstaan en ’n bestuur wat hulle kan vertrou. Sedert die ‘dot.com’-borrel in Maart 2000 gebars het, het die JSE Alle-aandele indeks met ’n massiewe 298% in Amerikaanse dollars gestyg. Vergeleke daarmee is die Morgan Stanley Saamgestelde Wêreldindeks slegs 29% hoër in Amerikaanse dollar-terme.

Die sukses van Suid-Afrikaanse maatskappye is ’n weerspieëling van hul uitmuntende kaliber wat nie alleen voortgaan om buitelandse beleggers te lok nie, maar ook talle van ons maatskappye in die wêreldmarkte sien presteer.

Danksy wêreldwye uitbreidings deur maatskappye soos SAB Miller, BHP Billiton en Anglo American, sowel as maatskappye soos Richemont en British American Tobacco wat slegs in oorsese markte betrokke is, kom byna die helfte van die opbrengs wat deur die JSE Alle Aandele-indeks gegenereer word, van oorsese markte. Dit beteken dat baie van ons toonaangewende maatskappye meer in korrelasie met wêreldwye groei is as die Suid-Afrikaanse ekonomie. Deur bloot in hierdie maatskappye te belê, verwerf jy blootstelling aan wêreldwye geleenthede.

Talle van ons maatskappye, soos die kleinhandelaar Shoprite Checkers, die kommunikasiereus MTN en banke soos Standard Bank handhaaf ‘n baie sterk Afrika-teenwoordigheid en put voordeel uit die buitengewone groeikoerse van Afrika suid van die Sahara: ’n groeikoers van 6% per jaar vergeleke met die minder as 2% vir Suid-Afrika.

Gegewe hierdie groeikoerse is dit verstaanbaar dat maatskappye wat op die Finansiële en Industriële Indeks (FINDI) gelys is, gemiddelde opbrengste lewer wat twee keer die koers van ons ekonomiese groei is, en ook hoekom die aandelepryse van hierdie maatskappye so dramaties gestyg het.

Die vraag is nou: kan dit voortgaan? Ons waardasies is hoog, met ander woorde beleggers betaal ’n relatief hoë prys vir ons maatskappye ongeag hul hoër verdienste. Ons geniet ook ’n ononderbroke 5jaar-plus bullopie en jou gesonde verstand sê vir jou die mark sal in die een of ander stadium terugkeer na meer normale vlakke.

Indien jy ’n korttermyn-beleggingshorison het of daaraan dink om ’n eenmalige bedrag in die mark te belê, sal jy dalk wil oorweeg om jou geld in die Stanlib Inkomstefonds te belê waar dit feitlik risikovry 6.5% sal verdien. ’n Beter koopgeleentheid mag ontstaan sodra die mark herstel.