Die miokardiale infarksie, of hartaanval: alles wat jy behoort te weet
Ons jaag aanmekaar; ons is gestres oor verkeer, spertye, familie en eindelose verantwoordelikhede. Ons rook en drink om te ontlaai. En ons eet ryk, romerige kosse, gewoonlik bloot vir troos.
Al die bogenoemde kwessies en leefstylgewoontes kan ons algehele gesondheid belemmer, maar die grootste kommer is dat ’n vinnige leefstyl ons belangrikste orgaan aftakel...die hart.
Daar word beraam dat 33 mense per dag aan ’n hartaanval sterf in Suid-Afrika. Meer mans sterf op hierdie manier as vroue: vir elke vrou wat aan ’n hartaanval doodgaan, sal twee mans sterf.
Wat gebeur tydens ’n hartaanval?
’n Hartaanval, oftewel ’n miokardiale infarksie (MI), is die dood van die hartspier vanweë ’n gebrek aan suurstof. Dit word gewoonlik veroorsaak deur ’n afname of gebrek aan bloedtoevoer na die hart.
Miokardiale infarksie vind gewoonlik plaas wanneer ’n erg beskadigde hartspier gedeeltelik of volkome verstop word deur ’n bloedklont. Die hart werk die hardste van al die organe, en verseker deur middel van ’n netwerk bloedvate, dat al die ander organe bloed ontvang wat verryk is met nutriënte en suurstof.
Die hart het sy eie bloedvoorraad nodig om hierdie belangrike taak te verrig. Die netwerk bloedvate wat die hart van bloed voorsien is die koronêre bloedvate. Wanneer hulle verstop raak, vind ’n hartaanval plaas.
Hoe weet ek of ek ’n hartaanval kry?
Simptome van ’n hartaanval is erge borspyn (’n gevoel van drukking op die bors) of pyn in die arms of nek, wat gewoonlik ongeveer 15 minute lank duur. Sommige mense ervaar slegs ligte ongemak soos sooibrand of slegte spysvertering.
Addisionele simptome sluit in naarheid, erge sweting, ’n gevoel van kortasem en ’n sensasie asof jy wil flou word.
Prognose na ’n hartaanval
Indien ’n groot deel van die hart skade ly tydens ’n hartaanval, kan dit tot die dood lei. Hoewel dit in die verlede algemeen voorgekom het, is dit nie deesdae meer so algemeen nie. Deesdae is mense baie meer bewus van die simptome en die noodsaaklikheid van vroeë behandeling. Daar bestaan deesdae beter behandelingsmetodes as in die verlede, en as gevolg van al hierdie faktore is daar nou ongeveer 30% minder mense wat sterf aan hartaanvalle. Meer as die helfte van die sterftes vind plaas voor die pasiënt by ’n hospitaal uitkom.
Die langtermyn-prognose vir lewenskwaliteit en lewensduur hang af van die skade wat tydens die eerste hartaanval opgedoen is. Afhangende hiervan, en afhangende van watter koronêre bloedvate geaffekteer is, sou die persoon komplikasies of chroniese probleme kon opdoen. Dit sluit in:
- Aritmieë (abnormale hartritme) – dit gebeur wanneer elektriese ‘kortsluitings’ veroorsaak word wat ’n abnormale hartritme veroorsaak, wat soms noodlottig is.
- Hartversaking – wanneer die skade aan die hartspier ernstig genoeg is om te verhoed dat die hart voldoende bloed pomp deur die hartkamers en deur die res van die liggaam. Dit kan ’n tydelike of permanente probleem wees.
- Hartspier skeur – wanneer ’n swak gedeelte van die hart skeur, wat ’n gat in die hart veroorsaak. Dit is gewoonlik noodlottig.
- Klep-probleme – wanneer die hartkleppe nie meer voldoende funksioneer nie.
Wat is die risiko’s?
’n Hartaanval is altyd ernstiger vir mense in sekere kategorieë, soos:
- Bejaardes.
- Persone met ’n geskiedenis van hartsiekte of wat risikofaktore openbaar soos hoë cholesterol, hoë bloeddruk, verhoogte liggaamsmassa-indeks (LMI), mense wat sittende leefwyses volg en rokers.
- Mense met hartversaking.
- Diabete.
- Mense wat langtermyn nierdialise ontvang.
- Rokers.
Kan ek nog steeds gedek word al het ek ’n hartaanval gehad?
Die risiko van ’n tweede hartaanval is altyd die hoogste in die eerste jaar na die eerste voorval.
Versekeringsmaatskappye sal die volgende wil weet:
- Die omvang van die skade aan die hart.
- Behandeling ontvang tydens die hartaanval.
- Watter bloedvate was geaffekteer?
- Enige komplikasies verbonde aan die hartaanval.
- Enige bykomende toestande soos diabetes.
- Enige risikofaktore vir ’n kardiovaskulêre voorval soos verhoogde cholesterol of hipertensie, en die beheer van die faktore, soos byvoorbeeld dat familiegeskiedenis gemonitor word.
Die applikant sal versoek word om mediese toetse te ondergaan, wat die volgende kan insluit:
- ’n EKG-strestoets.
- Bloedtoetse, soos cholesterol.
- Mediese ondersoeke soos meting van hoë bloeddruk.
Indien ek ’n hartaanval kry, wanneer sal ek uitbetaal word?
Sommige versekeringsmaatskappye sal nie vir alle hartaanvalle uitbetaal onder dekking vir gevreesde siektes nie. Uitbetaling van eise word bepaal deur die definisie en beskrywing van die dekking in die polis.
Die meeste groter versekeringsmaatskappye in Suid-Afrika maak van die SCIDEP-definisie gebruik, wat beteken dat die maatskappy die gestandaardiseerde definisie vir hartaanvalle gebruik soos deur ASISA beskryf. Hierdie definisie behels vier vlakke wat sekere vereistes bevat waaraan die versekerde moet voldoen voor die eis uitbetaal sal word.
Liberty se mees omvattende gevreesde siekte voordeel (Living Lifestyle met die opsies Top-Up en Extended), betaal die volle versekerde bedrag vir hartaanvalle op al vier die vlakke van erns soos deur SCIDEP gedefinieer.
Elke vlak van die definisie vereis ’n kliniese geskiedenis van borspyn, bepaalde EKG-veranderings wat tydens die hartaanval waargeneem is en lesings van sekere ensiemvlakke. Elk van hierdie dra by om te kwalifiseer vir ’n uitbetaling.
Om mee af te sluit: ’n hartaanval is ’n ernstige kardiovaskulêre voorval wat chroniese gesondheidstoestande of die dood kan veroorsaak. Die meeste van ons is daarvan bewus dat ’n gesonde leefstyl en gereelde bloeddruk- en cholesteroltoetse kan help om die risiko’s te verminder. Indien jy ’n hartaanval kry, sal jy die regte dekking in plek moet hê om finansiële probleme te voorkom. Hierdie dekking kan versekering vir gevreesde siekte, beroepsongeskiktheid en inkomstebeskerming insluit.