Bekostigbare onderwys: Beplan só vir jou kind se toekoms

Liberty Adviesdienste

Verstaan jou doelwitte

Jou kind se opvoeding kan enigiets tussen R500 000 en R2 miljoen uit jou sak jaag. Dis duidelik dat dit moeilik sal wees om soveel geld binne die eerste sewe jaar van jou kind se lewe te spaar.

Die idee agter ’n opvoedingstrust is om die gaping tussen jou salarisverhogings en stygende skoolfooie – wat neig om bokant inflasie te styg – te oorbrug. Jy mag wel jou kind se laerskoolonderwys kan bekostig, maar teen die tyd dat hy of sy hoërskool toe gaan, sal die jaarlikse fooie 120 persent hoër wees as die fooie wat jy in Graad 1 betaal het. Dit is as gevolg van inflasie en die hoër koste verbonde aan sekondêre onderwys. Die beste manier om vir jou kind se opvoeding te sorg, is om jou finansies vandag nog in orde te kry:

Hou jou oog op skuld

Baie ouers kla oor onderwyskoste, maar in dieselfde asem spandeer hulle maklik R5000 per maand aan ’n luukse motor. Jou kind se opvoeding is van onskatbare waarde, en onthou, dit verminder nie in waarde nie! Wanneer jy skuld aangaan om ’n huis, motor of enige ander item te koop, maak baie seker dat jy dit nie ten koste van jou kind se onderwys doen nie.

Beraam ’n plan

Dit is raadsaam om jou kind, van die begin af, by ’n skool in te skryf wat jy op jou bestaande inkomste kan bekostig. Sodra jou kind met Graad 1 begin, moet jy onmiddellik jou spaargeld verhoog met ’n bedrag wat die verskil tussen laerskool- en hoërskool- fooie beloop. Op hierdie manier sal jy dan ’n realistiese persentasie van jou salaris wegsit vir jou kind se opvoeding oor 12 jaar, en die spaargeld sal die jaarlikse fooi-stygings in die hoërskool dek.

Byvoorbeeld, indien Graad 1 R1000 per maand kos, en Graad 8 kos R1500 per maand, sal jy vanaf die begin van Graad 1 ’n addisionele R500 per maand moet spaar .

Let wel: hierdie bedrag sal toekomstige skoolfooi-stygings dek, maar sal nie tersiêre opvoedingskoste dek nie.

Stig ’n fonds

Elke ouer behoort vir hul kinders se opvoeding te spaar. Vra familielede om geld in ’n opvoedingsfonds te stort in plaas daarvan om verjaardag- en Kersgeskenke te koop. Kinders het goeie opleiding meer nodig as speelgoed, en hulle sal jou op die lang duur daarvoor bedank.

Groei jou spaargeld op ’n pynlose manier

Gebruik die Save More Tomorrow-plan om jou kind se studiefonds te versterk. In die boek, Nudge, beveel skrywers Richard Thaler en Cass Sustein aan dat jy ’n gedeelte van jou jaarlikse salarisverhoging spaar om jou spaargeld aan te vul.

Byvoorbeeld, indien jy ’n 7% salarisverhoging kry, moet jy onmiddellik ’n debietorder teken om 2% van jou addisionele inkomste te spaar. Verbind jouself daartoe om elke jaar ’n verdere 2% van jou salaris te spaar. Binne vyf jaar sal jy 10% van jou salaris spaar sonder om uitgawes te besnoei.

’n Alternatiewe plan is om ’n bedrag te spaar wat elke jaar met ’n sekere persentasie (wat hoër is as inflasie) styg. Soos, byvoorbeeld, ’n 9%-10% eskalasie op jou maandelikse spaarplan.

Belê vir groei

Indien jy beplan om vir ’n periode van vyf of tien jaar te spaar, moet jy seker maak dat jy in ’n fonds belê wat vinniger groei as wat skoolfooie styg.

Kontant-tipe spaarfondse sal nie geskik wees nie, aangesien sulke fondse gewoonlik slegs opbrengste van ongeveer 5% lewer, terwyl skoolfooie met ongeveer 10% styg.

Jy kan in groei-effektetrusts belê deur die GateWay Investment Plan. Dit verleen aan jou die buigbaarheid om gereelde bydraes te maak wanneer jy kontant beskikbaar het. Met ’n Gateway-belegging kan jy in ’n reeks effektetrusts belê op een platform, teen kompeterende tariewe.

Belê vir beskerming

Liberty se Education Builder-belegging bied jou nie slegs die geleentheid om vir jou kind se opvoeding te spaar nie, dit beskerm ook hierdie spaargeld in die geval van dood of ongeskiktheid van die hoofbroodwinner. Hierdie belegging bied dus meer as opvoedingspaargeld aan, dit bied ook beskerming.

Gebruik die regeringsbonus

Fundisa is ’n regeringsinisiatief wat dit moontlik maak om vir jou kind se tersiêre onderwys te spaar. Jy word ’n jaarlikse bonus op jou belegging uitbetaal wat 25% van die jaarlikse bedrag kan beloop, tot ’n maksimum van R600 per kind.

Indien jy R100 per maand spaar (’n totaal van R1 200 per jaar), word R300 per jaar toegevoeg. Om die maksimum bonus van R600 per jaar te ontvang, moet jy R2 400 per jaar spaar.

Die bonus mag slegs deur die leerder gebruik word. Jy kan jou geld enige tyd onttrek, maar dan verloor jy die bonus.

Open ’n Fundisa Fonds-rekening by Standard Bank, of besoek die Stanlib webtuiste.

Studielenings

Die meeste studente maak op studielenings staat om hul tersiêre opleiding te befonds. Ouers kan bydra deur elke maand die renteporsie af te betaal. Dit beteken dat wanneer jou kinders se studies voltooi is, hul slegs die kapitaalporsie moet delg. Daar is ook regeringsprogramme soos die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) wat by www.nsfas.org.za genader kan word vir finansiële ondersteuning tydens studiejare.