Geldlesse vir jou kinders

Liberty Adviesdienste

Kom ons wees eerlik – wanneer ons as ouers vir ons kinders lewenslesse leer, is ons meer geneig om die houding van “doen wat ek sê, nie wat ek doen nie,” in te neem. Maar, indien jy jou kinders waardevolle lesse oor geld wil leer, is dit die beste om vir hulle te wys hoe jy jou eie geldsake bestuur.

’n Inklusiewe begroting

Betrek jou hele gesin by die huishoudelike begroting en finansiële plan; dit is ’n uitstekende manier om jou kinders te leer hoe om finansies te bestuur. As ’n gesin, kan julle gesonde geldreëls handhaaf, soos:

  • Spaar minstens 10% van jou inkomste (sakgeld).
  • Moet nooit op krediet koop nie.
  • Verstaan die verskil tussen behoeftes en begeertes (as ouers het ons al almal daardie hartverskeurende kreet moes aanhoor: “Maar ek het dit nodig...!”)

Sakgeld

Hoe gouer jou kinders leer om geld te hanteer, hoe gouer sal hulle leer om dit te bestuur. Koppel hul sakgeld aan huishoudelike takies sodat hulle van vroeg af al leer dat geld ’n waarde het, en dat jy moet werk daarvoor.

Eerder as om vir ouer kinders toiletware, lugtyd en klere te koop, gee vir hulle die geld wat jy maandeliks aan die items sou bestee en laat hulle daarvoor begroot en dit toewys. Dit is moontlik dat hulle in die eerste maand alles aan lugtyd sal blaas, maar binnekort sal hulle leer hoe om ’n balans te vind. Moet nooit vir jou kinders geld vooruit gee nie, dit sal hulle net leer om in skuld te leef!

Moedig spaargeld aan

Moedig spaargeld aan, veral wanneer jou kinders verjaardaggeld of ’n salaris vir vakansiewerk ontvang. Moedig hulle aan om ’n doelwit te stel waarvoor hulle kan spaar; dalk ’n speelding vir ’n jonger kind en ouer kinders sal dalk wil begin spaar vir ’n eerste kar. ’n Doelwit motiveer hulle om te spaar.

Stig ’n onderneming

Kinders is natuurlike entrepreneurs – hulle ly nie aan dieselfde vrese as hulle ouers nie. Indien jou kind ’n geldmaakplan het soos om koekies aan maats te verkoop, sal dit hulle baat as jy ’n besigheidsplan saam met hulle opstel sodat hulle die begrip van uitgawes teenoor inkomste beter kan begryp.

Wees vrygewig

Kinders is ook gemeenskapsgerig en wil gewoonlik uitreik na minderbevoorregtes. Help jou kind om ’n liefdadigheidsorganisasie te ondersteun; hulle kan gee in die vorm van geld, of tyd.

Jou kinders kan spaar om ’n kombers te koop vir ’n behoeftige, of hulle kan in ’n sopkombuis uithelp. Op die manier leer hulle nie slegs oor medemenslikheid nie, hulle leer ook hoe om geld en tyd te bestuur.