Opvoeding vir ons jeug

Liberty Kleinhandel SA

Werkloosheid is die grootste risiko wat ons jeug in die gesig staar. Syfers verskaf deur Stanlib-ekonoom Kevin Lings dui daarop dat slegs 26 % van Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 25 werkend is.

Daar mag tot ’n mate redes wees vir hierdie syfers (studente wat kies om langer te studeer, jonges wat reis en die gewilde sogenaamde ‘gap’-jaar) maar hierdie uitsonderings kan onmoontlik verduidelik waarom so ’n lae persentasie van ons jeugdige bevolking werkend is. In vergelyking met ons land, is ongeveer 55 % van jong mense in die VSA onder die ouderdom van 25 werkend – dubbel soveel as in Suid-Afrika.

Statistieke van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) dui daarop dat tersiêre opvoeding ’n jong mens se kans om werk te kry beduidend verhoog. Werkloosheid vir jong mense met tersiêre kwalifikasies daal dramaties tot net onder 10%, terwyl die werkloosheidsyfer vir diegene daarsonder, ongeveer 27 % beloop.

Hierdie syfers dui daarop dat ons nie slegs goeie onderwys aan ons kinders moet voorsien nie, maar ook naskoolse opleidingsgeleenthede. Vir ouers het werklose jong mense direkte finansiële implikasies. Indien jou kinders werkloos is, sal hulle heel moontlik langer op jou steun, moontlik selfs tot jy jou aftreejare betree. Niemand beplan om in hulle goue jare nog vir hul kinders te sorg nie. Wanneer ’n mens so daarna kyk, is dit duidelik dat wanneer jy sorg vir jou kinders se opvoeding, jy tegelykertyd ’n holistiese aftree-strategie beplan.