Julie 2013

Liberty

Hoe jou sak geraak word
Plaaslike ekonomiese nuus: Julie 2013

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaallikse bulletin gee ons 'n kykie in die finansiële stand van huishoudings en dit is nie 'n mooi prentjie nie.

Deur Tendani Mantshimuli, verbruikersekonoom, Liberty Life

Ons bestee minder

Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaallikse bulletin staan verbruikersbesteding op die laagste vlak sedert die einde van die resessie in 2009. Die groei in kleinhandelverkoopsyfers het in die afgelope vier maande gedaal vanweë laer verbruikersbesteding, wat 'n rimpel-uitwerking na die ekonomie het. Ongelukkig is die daling in verbruikersbesteding nie omdat ons almal meteens 'n sin vir besparing ontwikkel het nie, maar eerder omdat ons letterlik sonder geld sit:

 

Geen werk geen betaling: Daar is eenvoudig nie genoeg werksgeleenthede om nuwelinge in die mark te absorbeer nie. Die jongste syfers dui daarop dat formele indiensneming steeds op 49 000 geleenthede minder as die vorige hoogtepunt op die vooraand van die wêreldwye finansiële markkrisis staan. Ongelukkig is dit onwaarskynlik dat ons binnekort nuwe werksgeleenthede sal sien ontstaan, veral nadat die eerste kwartaal se BBP-syfers die mark op 'n flou 0.9%-vlak geskok het. Die land staar steeds ernstige probleme in die gesig, soos 'n opvoedingstelsel wat grootliks nie in staat is om geskoolde werkers op te lewer nie, en 'n arbeidsmark wat nie veel doen om werkskepping aan te moedig nie.

 

Lewenskoste styg: Salarisverhogings bokant die inflasiekoers, wat ons voorheen beleef het, word nou iets van die verlede terwyl lewenskoste steeds bly styg, tesame met hoër elektrisiteits- en petrolkoste, sowel as opvoedings- en mediese koste. Dit is alles koste wat nie deur huishoudings vermy kan word nie en die enigste opsie is dus om te besnoei op diskresionêre besteding, wat weer lei tot swakker kleinhandelverkope. Boonop sal die daling in randwaarde tot invoer-inflasie lei, wat beduidende spronge in voedsel- en petrol-inflasie sal insluit. Dit beteken dat die besteebare inkomste van huishoudings net al hoe kleiner sal word.

 

Ons het minder krediet

Hoewel die uitwerking van hoër koste en 'n hoë werkloosheidsyfer reeds geruime tyd 'n talmende uitwerking het, was dit vir verbruikers steeds moontlik om bestedingspatrone voort te sit deur meer skuld aan te gaan. Dit lyk egter of daardie maklike kredietkringloop verby is.

 

In die afgelope paar maande het die groei in ongesekureerde krediet dramaties afgeneem en dit het trouens die laagste groeivlak sedert 2009 bereik. Die totale skuldbedrag teenoor jaarlikse huishoudelike inkomste staan nou op 75% en dit is onwaarskynlik dat dit verder sal styg.

 

Rentekoersverhoging nog nie ophande nie

Met die verswakking van die rand sal inflasie styg, hoewel dit onwaarskynlik is dat die Reserwebank in die lig van die swak ekonomiese groei en troebel vooruitsigte vir werkskepping rentekoerse sal verhoog – wat ten minste goeie nuus vir vuisvoos verbruikers is, hoewel nie vir spaarders nie.