Julie 2013

Liberty

Jou spaarprioriteite

Bepaal jou spaarprioriteite

Liberty Adviesdienste

Daar word altyd hoë eise aan jou spaarkapasiteit gestel: nie net moet jy geld opsysit vir noodgevalle nie, maar ook vir 'n aftreeplan, jy moet spaar vir 'n deposito op jou huis en dan het jy nog nie eens aan die kinders se opvoeding gedink nie. Met al hierdie behoeftes is dit reeds moeilik genoeg om voldoende spaargeld opsy te sit om alles te dek – 'n mens weet soms nie eens waar om te begin nie. Die enigste strategie is om te prioritiseer:

 

Prioriteit no. 1: Noodgevalle

Noodgevalle is een van die vernaamste redes waarom mense in skuld gedompel word. Die lewe gebeur met 'n mens en dan moet jy doodeenvoudig 'n plan in plek hê. Elke huishouding behoort geld opsy te sit vir noodgevalle. Die skrywer Dave Ramsey beveel aan dat jy met 'n realistiese mikpunt van minstens R10 000 begin wat vir noodgevalle opsygesit word. Indien jy daarvan vir dié doel moet gebruik, moet dit jou prioriteit wees om dit weer aan te vul. Jou doelwit vir die langer termyn moet wees om 'n noodfonds op te bou ter waarde van drie maande se huishoudelike uitgawes.

 

Waar om te spaar: Vra jou bank vir 'n 'geen koste'-spaarrekening wat jou geld binne 24 uur beskikbaar maak.

 

Prioriteit no. 2: Skuld

Betaal korttermyn skuld af. Om skuld af te betaal, is 'n vorm van spaar omdat jy geld spaar deur skuld gouer af te betaal. As jy sit met korttermyn skuld wat jou 20% per jaar kos, is dit sinneloos om teen 12% per jaar te spaar.

 

Waar om te spaar: Begin met jou kleinste skuldbedrag. Sodra dit afbetaal is, is daar meer geld beskikbaar om die volgende skuldbedrag te betaal, ensovoorts.

 

Prioriteit no. 3: Aftrede

Gebruik jou belastingvoordeel om vir aftrede te beplan. Moenie die belastingvoordeel wat deur die regering verskaf word, vermors laat gaan nie. Indien jou werkgewer nie 'n aftreefonds het nie, neem dan 'n aftree-annuïteit uit.

 

Waar om te spaar: Jou maatskappy-aftreefonds of 'n aftree-annuïteit. Liberty het 'n wye reeks aftree-oplossings.

 

Prioriteit no. 4: Lewensdoelwitte

Jou mediumtermyn-spaarmikpunte word bepaal deur die lewenstadium waarin jy jou bevind. Indien jy pas begin werk het en beplan om 'n huis te koop, sal dit jou prioriteit wees om vir 'n deposito op jou nuwe huis te spaar. As jy kinders het, mag dit jou prioriteit wees om vir hul opvoeding te spaar.

 

Waar om te spaar: Daar is 'n reeks produkte wat in jou behoeftes kan voorsien. Praat met jou finansiële adviseur oor die verskillende opsies:

 

  • 'n Multi-bate effektetrust wat oor bates, kontant, verbande, eiendom en in die buiteland kan belê, is 'n goeie mediumtermyn beleggingstuig.
  • Opvoedingspolisse kan help om 'n dissipline te skep vir die spaarpoging wat op jou kinders se toekoms gemik is.
  • Fundisa, die regerings- en nywerheidsinisiatief vir 'n tersiêre opvoedingspaarplan is by Standard Bank en STANLIB beskikbaar.