Julie 2013

Liberty

Van 'niets' tot spaarheld

Sewe maniere om te spaar sonder om jou lewenstyl te verander

Liberty Adviesdienste

Finansiële gedrag het geleer dat indien ons moet inkort op ons lewenstyl ten einde te kan spaar, ons dit as 'n 'verlies' eerder as 'n langtermyn voordeel ervaar. Hierdie gevoel van verlies kan ons werklik ontmoedig, en dus moet ons besparingsmetodes ontdek wat 'n klein uitwerking op ons lewenstyl, maar terselfdertyd 'n groot uitwerking op ons langtermyn welvaart het.

 

Let op jou bankkoste

'n Algemene oorsigfout wat jongmense maak, is om nie hul spaarrekening in 'n transaksierekening te omskep wanneer hulle begin werk nie. Volgens banke kan jy tot R80 per maand spaar indien jy die regte pakket gebruik. Dit kom neer op R960 per jaar! As jy die maandelikse besparing by jou langtermyn beleggingsplan sou voeg, sou jy binne 5 jaar 'n hupstoot van R6 000 daaraan kon gee.

 

Verminder ook daaglikse bankkoste deur slegs ooit by jou eie bank se outobanke geld te trek en indien daar nie een beskikbaar is nie, deur jou debietkaart te gebruik om kontantonttrekkings te maak by jou plaaslike Checkers, Spar of Pick n Pay teen laer koste as by 'n outobank. Reël 'n debietorder om jou kredietkaartbetaling te doen, sodat jy nooit boetegeld of rente hoef te betaal nie. Dit sal ook jou kredietrekord 'n guns doen.

 

Hou die klein daaglikse dinge dop

Het jy geweet dat indien jy elke dag een cappuccino sou koop, jy R6 500 per jaar sou bestee! Dit wil nie sê jy moet jouself nie nou en dan 'n koppie koffie gun nie; maar as jy jouself tot drie koffies per week beperk, sal jy minstens R3 700 per jaar of R300 per maand spaar. As jy daardie bedrag vyf jaar lank maandeliks belê, sal jy 'n skaflike neseier van R23 000 hê. Dieselfde beginsel geld vir die koop van middagetes: as jy jou eie kos saamneem werk toe, kan jy nog meer bespaar.

 

Wanneer jy gaan inkopies doen, vergelyk die pryse tussen die verskillende handelsmerke en stel vas watter spesiale aanbiedinge daar is. Koop ook jou vrugte en groente eerder los as in voorafverpakte formaat. Dit is heelwat goedkoper.

 

Spaar jou kleingeld

Het jy al ooit gewonder hoeveel geld jy sou bymekaarmaak as jy al die munte in jou beursie spaar? Die antwoord is duisende rande. Hou 'n fles in jou kombuis waarin jy aan die einde van die dag al jou los kleingeld sit. Sodra dit vol is, kan jy dit na die plaaslike skool se snoepie of selfs die kafee op die hoek neem en die munte vir papiergeld omruil. Onthou egter om nie die geld sommer daar en dan by die kafee uit te gee nie! Stel vir jouself 'n doelwit vir daardie geld en voeg dit by jou belegging, of jou vakansie-spaargeld.

 

Skakel jou versekeraar

Motor- en huisversekeringsmarkte is deesdae baie meer mededingend en jy betaal dalk nog ou tariewe. Bel dus jou versekeraar en vra dat jou premies hersien word.

 

Spaar vooraf vir elektrisiteit

Probeer om jou elektrisiteitskoste eweredig oor die jaar te versprei sodat jy nie in die winter hard getref word nie. Bereken hoeveel jy per jaar aan elektrisiteit bestee en verdeel dit in twaalf ewe groot betalings. As jy byvoorbeeld 'n voorafbetaalde meter het, sal jy in die somermaande meer elektrisiteit koop as wat jy nodig het, en sodoende 'n surplus vir die wintermaande opbou. Dan hoef jy nie party maande meer op te dok nie!

 

Aangesien jy eenhede koop, kan jy eintlik wen wanneer elektrisiteitskoste verhoog word, aangesien jy dan reeds vooraf gekoop het. Selfs as jy 'n elektrisiteitsrekening het, kan jy gedurende die somermaande 'n groter bedrag betaal as wat nodig is.

 

Betaal jouself eerste

Noudat jy ontdek het jy het ekstra kontant om te spaar, kan jy 'n debietorder reël vir die begin van elke maand sodat die geld afgetrek word voordat jy dit bestee. Dit is in die mens se aard om elke maand al die geld wat in jou rekening is, te bestee en derhalwe moet jy die spaargeld beskerm deur jouself as 't ware eerste te betaal – voordat al die ander aftrekkings gedoen word.

 

Spaar more meer

Gebruik die Spaar more meer-plan om elke jaar jou debietorder-spaargeld 'n hupstoot te gee. In die boek 'Nudge' deur Richard Thaler en Cass Sustein, beveel die skrywers aan dat jy elke maand 'n deel van jou salarisverhoging gebruik om jou spaargeld aan te vul. As jy byvoorbeeld vanjaar 'n verhoging van 7% kry, kan jy dadelik 'n debietorder teken om 2% van hierdie bykomende inkomste in 'n spaarrekening in te betaal. Verbind jou daartoe om elke jaar daardie debietorder met 'n verdere 2% van jou salaris te vergroot. Binne 5 jaar sal jy 10% van jou salaris spaar sonder dat jy jou besteding sal hoef te besnoei. 'n Ander manier om hierdie mikpunt te bereik, sal wees om jou daartoe te verbind om 'n bedrag te spaar wat elke jaar met 'n paar persentasiepunte meer as die inflasiekoers groei, byvoorbeeld deur middel van 'n styging van 9%-10% op jou maandelikse spaarplan.