Die agtergrond
Reeds 'n geruime tyd lank het Cipriotiese banke buitengewoon hoë opbrengste wat aansienlik hoër as die gemiddeld was, aangebied. Cipriotiese banke het byvoorbeeld 4,5% aangebied teenoor Duitse banke se 1,5%. Uit die aard van die saak het dit Ciprus in 'n baie aantreklike beleggingsbestemming omskep. Binne 6 jaar het die deposito's in Cipriotiese banke gestyg van 78 biljoen euro tot 126.4 biljoen euro, wat nie minder nie as 7 keer die grootte van die ekonomie is.
Die banke het welgestelde buitelanders se geld in so 'n mate opgehoop dat die grootte van die banke te veel was vir die land om te hanteer. 30% van alle deposito's het aan Russe behoort. Veral ryk Russiese families en Russiese korporasies het Ciprus as 'n vername beleggingsparadys uitgekies. Daar bestaan nou al geruime tyd kommer dat hierdie deposito's aan geldwassery gekoppel kan word.
Te goed om waar te wees
Soos alle bekwame beleggers maar te goed weet: wanneer iemand 'n opbrengs aanbied wat baie hoër is as wat die mark aanbied, is 'n daar altyd 'n bykomende risiko aan verbonde. In hierdie geval het Cipriotiese banke grootskaalse blootstelling aan Griekeland gehad en het hulle sowat 4.5 biljoen euro aan Griekse soewereine skuld verloor.
Die banke moes 'n reddingspakket aanvaar. Die Eurogebied se reeks van streng eise het ingesluit dat die Cipriotiese regering van die fondse aanbied vir die reddingspakket.
Die ooreenkoms
Ciprus het ingestem tot 'n beduidende herstrukturering van die land se banksektor, tesame met ander maatreëls soos belastingstygings en privatisering. Die maatreëls is ontwerp om biljoene euro in te samel vir die reddingspakket, terwyl dit beskerming verleen aan beleggers met deposito's van 100,000 euro of minder.
Depositorekenings van meer as 100,000 euro by die Bank van Ciprus is gevries en die banke was vir 'n week lank gesluit; slegs beperkte onttrekkings is toegelaat.
Deposito's groter as 100,000 euro sal deur die regering ontgin word om biljoene in te samel wat vir die reddingspakket bestem is. Dit is nog nie duidelik hoeveel van die geld gebruik gaan word nie, maar 'n regeringswoordvoerder het aangedui dat kliënte moet verwag om sowat 30% te verloor.
Die presedent
Leiers in die Eurogebied wys daarop dat Ciprus as 'n voorbeeld dien. Die land het onlangs by die Eurogebied aangesluit en sedertdien weinig respek getoon vir Europese bankreëls of goeie korporatiewe bestuur; voorts is geldwassery onder 'n dekmantel geplaas.
Boonop is die grootste gedeelte van die kliënte wat deur die krisis getref is, buitengewoon ryk; anders as in Ysland bestaan die deposito's in Cipriotiese banke nie uit pensioenfondsbates nie.
Eerder as wat hierdie gebeure 'n presedent geskep het dat Europese regerings die man op straat se spaargeld kan ontgin, was dit 'n boodskap aan alle Europese regerings om hul finansiële stelsels met omsigtigheid te bestuur in oorleg met die reëls van die Europese Unie.