April 2013

Liberty

Ekonomiese verlangsaming tref huishoudings
Plaaslike ekonomiese nuus: April 2013

Suid-Afrika het, benewens inkopies, 'n bykomende ekonomiese groeibron nodig

Deur Tendani Mantshimuli, Verbruikersekonoom, Liberty

Die SA Reserwebank se Kwartaallikse Bulletin het 'n nugtere prentjie geskets van verbruikers se finansiële welstand. Die groei in huishoudelike verbruiksuitgawes het gedurende 2012 stadig maar seker afgeneem, van 4% aan die begin van 2012 tot slegs 2.4% teen jaareinde. Dit is 'n gevolg van die verlangsaming in huishoudelike besteebare inkomste. Oorkoepelende ekonomiese groei het in 2012 swak gevaar, wat druk op besteebare inkomste geplaas en aansienlike verlangsaming veroorsaak het.

Drywers van besteebare inkomste

Besteebare inkomste is 'n funksie van die groeikoers van die ekonomie. Tans groei Suid-Afrika nie genoegsaam om nuwe werk te skep nie. Derhalwe – aangesien die getal indiensnemings nie groei nie, groei die land se besteebare inkomste ook nie.

 

Boonop het lae inflasiekoerse en lae maatskappy-winsgewendheid beteken dat nominale loonstygings in die meeste nywerhede – buiten mynbou en vervaardiging – matig was. Benewens inkomste-stremming, beleef huishoudings ook nog bykomende druk as gevolg van hoë brandstof- en energiepryse, wat min geld oorlaat om aan ander items te bestee.

Brandstofprys-ellendes

Die petrolprys se toekoms lyk sleg in die lig van die rand se wisselvallige wisselkoers, wat tans raak aan vlakke wat laas in 2009 waargeneem is. Dit sal nie slegs die petrolprys beïnvloed nie, maar ook uitdagings bied aan inflasie op die meeste ingevoerde produkte.

Inflasievrees

Die aanvanklike raming dat inflasie 'n gemiddeld van net onder die boonste band van 6% sou bereik, sal moontlik opwaarts aangepas moet word indien die randswakheid voortduur. Februarie se inflasie het vinniger as wat verwag is, gestyg tot 5.9%, hoofsaaklik gedryf deur hoër versekering- en mediese koste sowel as petrolprysstygings. Voedselinflasie het oor dieselfde tydperk verslap, wat verligting aan verbruikers kan bring.

Rentekoerse stabiel

Ondanks kommer oor 'n swak ekonomie, het die Reserwebank by hul vergadering in Maart besluit om rentekoerse onveranderd te laat. Die rede hiervoor is die opwaartse risiko's vir inflasie weens die tuimelende rand, hoë looneise en energiekoste.

 

Dit is belangrik om daarop te let dat die opwaartse risiko vir inflasie ook nie genoegsame rede is vir die Reserwebank om rentekoersstygings in die afsienbare toekoms te oorweeg nie. Ons uitgangspunt is dat koerse vir die grootste gedeelte van 2013, onveranderd sal bly.

Skuldvlakke bly hoog

Aangesien die groeikoers van besteebare inkomste stadiger is as die koers waarteen die besteding verstadig, beteken dit dat verbruikers meer skuld gemaak het om hul uitgawes te finansier. Huishoudelike skuld het, as 'n persentasie van huishoudelike besteebare inkomste, op 75.8% hoog gebly.

 

Ofskoon die hoë skuldvlakke kommerwekkend is, het verbruikers nog 'n bietjie blaaskans aangesien die skulddienskoste laag behoort te bly in die lig daarvan dat 'n rentekoersstyging onwaarskynlik is. Die brose groeivooruitsigte beteken dat die Reserwebank nie koersstygings in die kort- tot mediumtermyn sal aankondig nie, ongeag die kommer oor opwaartse inflasiedruk.

Trefkrag op groei

'n Groot bron van kommer is dat die daling in verbruiksuitgawes 'n direkte uitwerking op die groeikoers gehad het. Huishoudelike verbruiksuitgawes maak sowat 60% uit van die Bruto Binnelandse Produk (BBP). Aangesien Suid-Afrikaanse huishoudings nie veel spaar nie, kan ons aanneem dat 'n beduidende gedeelte van besteebare inkomste aan uitgawes bestee word. Indien inkomste dus afneem, sal bestedingsvlakke ook daal: verbruikers is reeds oortrokke, wat beteken dat daar min kans is om nog verdere skuld aan te gaan. Hierdie prentjie skep probleme vir BBP-groei.

 

Aan die positiewe kant kan ons dalk die vervaardigingsektor sien versterk; Stats SA se nuutste gegewens dui op 'n verrassende opswaai in vervaardiging. Indien dit volhoubaar is, sal dit 'n welkome hupstoot aan BBP bied.