April 2013

Liberty

Finansiële beplanning wat tred hou met die tyd

Beplan jou finansies sodat jy in beheer kan bly

Boitumelo Mothoagae: Head of Customer Retention

Die meeste mense reageer op finansiële behoeftes, eerder as om daarvoor te beplan. Dit beteken dat hulle gedurig voel asof hulle moet uithaal om by te bly, en dikwels selfs moet skuld maak net om aan die gang te bly.

 

'n Finansiële plan wat by jou veranderende behoeftes aanpas, sal jou in beheer plaas van jou geld – én jou toekoms.

Die plan vir jou twintigs

Betaal skuld af: Dalk het jy pas jou tersiêre onderrig voltooi en begin werk. Miskien moet jy nou studieskuld begin afbetaal. Tref reëlings met die finansiële instelling waar jy 'n lening het en stel 'n bedrag vas wat jy kan begin afbetaal. Hoe vroeër jy begin en hoe meer jy terugbetaal, hoe gouer kan jy jou lening delg – dit beteken dat jy uiteindelik minder betaal.

 

Moenie die huis te gou verlaat nie: Jy is op die stadium waar jy die huis kan verlaat, jou eie plek kan huur, 'n motor kan koop en klere vir jou nuwe werk moet aanskaf. Indien jy egter nog steeds by jou ouers kan bly en sodoende huurgeld spaar tot jy 'n goeie klompie geld gespaar het, sal dit vir jou groter toekomstige finansiële vryheid bied.

 

Begin spaar: Moenie jou geld op pret, klubs en uitstappies mors nie. Aangesien jy geen afhanklikes het nie, is dit nou die tyd om jou besparings te maksimaliseer. Jy kan wegspring met die minimum bedrae wat nodig is vir aftree- en beleggingsbeplanning. Indien jy reeds op 23 begin beplan, lê daar minstens 32 jare van aftreebeplanning voor – en tyd om die mag van saamgestelde rente te geniet sodat jy vir 'n huis kan spaar en 'n motor kontant kan koop. Indien jy, byvoorbeeld, R1000 per maand in 'n groei-effektetrust sou spaar, sal jy op 30 jarige ouderdom R135 000 hê om as 'n deposito op jou eerste huis neer te sit.

 

Beskerm jou inkomste: Sodra jy begin verdien, moet jy begin om jou grootste bate – jou toekomstige inkomste – te beskerm. Indien jy R10 000 per maand verdien, nooit bevorder word nie en altyd slegs inflasie-gekoppelde verhogings ontvang, sal jy nog steeds R9 miljoen gedurende jou werkslewe verdien. Jy moet daardie inkomste beskerm deur versekering uit te neem ingeval jy om een of ander rede nie kan werk nie. Liberty bied ook 'n inkomstebeskermer aan wat jou inkomste dek ingeval jy afgedank word.

 

Beskerm jou gesondheid: Maak seker dat jy mediesefonds-dekking asook dekking vir gevreesde siektes het. Baie maatskappye bied hierdie soort dekking aan hul werknemers; indien nie, moet jy jou eie dekking uitneem. Vra raad by jou finansiële adviseur. Onthou, jy moet 'n plan hê wat die meeste gebeurlikhede dek. Indien jy afhanklikes en skuld het, is dit ook raadsaam om lewensdekking te hê.

Die plan vir jou dertigs

Dit is die dekade waarin baie mense trou en met gesinne begin.

 

Vul jou spaargeld aan: Teen dié tyd het jy dalk van jou spaargeld gebruik om vir die troue te betaal en 'n huis, meubels of 'n motor te koop. Probeer om jou spaargeld aan te vul na afloop van elke geleentheid. Dit is raadsaam om 'n noodfonds te hê wat minstens drie maande se koste sal dek. Op die manier sal 'n noodgeval jou nie in die skuld dompel nie.

 

Beskerm jou afhanklikes: Een van die belangrikste stappe om op hierdie stadium te neem, is om jou versekering te hersien - om seker te maak dat jy, jou eggenoot en jou kinders genoegsame dekking geniet.

 

Jy wil nie hê dat jou gesin hul lewenstyl moet afskaal in geval jy of jou eggenoot te sterwe sou kom of nie meer in staat daartoe is om te verdien nie.

 

Beplan jou boedel: Hersien jou testament en maak seker dat jy vir jou kinders voorsorg getref het; stel voogde aan in geval beide ouers te sterwe sou kom en oorweeg 'n testamentêre trust.

 

Spaar vir opvoeding: Begin vir opvoeding spaar sodra jou kinders gebore word – dit sal verseker dat jy hulle na die skool van jou keuse kan stuur, nie na die skool wat jy kan bekostig nie.

 

Hersien jou finansiële plan na elke gebeurlikheid om seker te maak dat jou plan nog steeds aan jou behoeftes voldoen.

Die plan vir jou veertigs

Al die beplanning wat jy in jou vroeë jare gedoen het, behoort nou vrugte af te werp; jy behoort in 'n sterker finansiële posisie te wees om aan jou veranderende behoeftes te voldoen.

 

Bly by die plan: Wanneer jou kinders begin skoolgaan, styg uitgawes; jy dink dalk daaraan om 'n groter huis vir jou groeiende gesin te koop. Terselfdertyd kan jy bevorder word en jou salaris kan merkbaar vergroot. Vermy die versoeking om jou groter salaris op 'n uitspattige lewenstyl te vermors.

 

Beplan om jou huislening te delg: Voor jy die groter huis aanskaf, moet jy seker maak dat jy dit teen die ouderdom van 55 kan afbetaal. Jy wil nie aftree met skuld teen jou naam nie.

 

Die lewenstyl wat jy in jou veertigs kies, sal 'n groot invloed hê op jou aftreejare.

Die plan vir jou vyftigs

Nou is jou kinders op universiteit en jy nader aftrede.

 

Aftree-oorsig: Hersien jou aftreebesparing; begin om dit aan te vul indien jy vasstel dat jy te min spaar.

 

Fokus daarop om jou skuld te delg: Teen die tyd behoort die meeste van jou skuld, soos jou huis- en motorlening, afbetaal te wees. Jy het ook, benewens jou aftreespaargeld, waarskynlik bykomende bates opgebou. Indien nie, moet jy begin om daarvoor te beplan. Die laaste ding wat jy nodig het, is om af te tree terwyl jy nog skuld het; nog erger, om aan te hou werk omdat jy skuld het en nie genoeg spaargeld om jou lewenskoste te dek nie.

 

Lewensveranderinge – 'n oorsig: Gebeure soos 'n egskeiding of die dood van jou lewensmaat kan 'n terugslag vir jou finansiële beplanning wees.

Die plan vir jou sestigs

Teen die tyd het jou kinders die huis verlaat en jy is nou afgetree, of na aan aftrede. Hou in gedagte dat jou aftreegeld lank moet hou, in sommige gevalle langer as jou werkende jare. Indien jy op 55 aftree en leef tot jy 100 is, moet jy vir 45 jaar voorsorg tref! Dit is noodsaaklik dat jy seker maak dat jy genoeg geld gespaar het sodat jy nie jou lewenstyl moet afskaal nie.

 

Na-aftrede beplanning: Belê jou aftreegeld op so 'n manier dat dit aanhou groei ten spyte van inflasie.

 

Neem jou lewenstyl in heroorweging: Indien jou kinders die huis verlaat het, kan jy 'n kleiner woning koop om 'n gedeelte van jou geld los te maak.

 

Hersien jou finansiële plan by elke lewenstadium en maak seker dat jy ten volle verseker is, en dat jy optimaal spaar. Dit is makliker om beheer van jou lewe te neem as jy vroeg al begin beplan met behulp van 'n finansiële raadgewer. Jy kan enige van Liberty se geakkrediteerde finansiële adviseurs nader om jou met jou lewensplan te help.