Voorkomende opsporingstoetse is ʼn maklike en bekostigbare manier om verskuilde gesondheidsrisiko’s te identifiseer. Hoe vroeër ʼn siekte geïdentifiseer word, hoe effektiewer kan die behandeling wees – en dit kan so eenvoudig wees as ʼn verandering in leefstyl.
Gereelde voorkomende opsporingstoetse het ʼn magdom gesondheidsvoordele op die lang termyn, dus maak die meeste mediese skemas voorsiening vir hierdie toetse sonder dat jy uit jou dag-tot-dag mediese spaarrekening daarvoor hoef te betaal.
Watter toetse behoort ek te doen?
Dit hang volkome af van jou ouderdom en gesondheidsrisikoprofiel – gesondheidstoetse moet vroeër gedoen word op mense met risikofaktore, soos ʼn familiegeskiedenis van ʼn bepaalde siekte.
Jong presteerders: Ouderdom 21-34
Cholesterol- en bloeddruktoetse behoort gedoen te word sodat jou dokter ʼn basislyn het waarteen enige veranderinge vergelyk kan word.
Vroue behoort met gereelde Pap-smere te begin en dit vir die res van hul lewens vol te hou. ʼn Pap-smeer is ʼn vinnige en maklike voorkomende opsporingstoets vir selle waarin kanker kan ontwikkel of kankeragtige selle van die serviks, die opening van die uterus. Die selle word tydens ʼn pelvisondersoek geoes in ʼn prosedure wat normaalweg pynloos is. Die selle word op ʼn skyfie gesmeer en onder ʼn mikroskoop ondersoek om enige abnormaliteite op te spoor. Indien dit gereeld (elke drie jaar) gedoen word, kan kanker in ʼn vroeë stadium opgespoor en verwyder word voordat dit versprei.
Vroue behoort ook te begin met gereelde borsselfondersoeke, verkieslik maandeliks op dieselfde datum. Dit sal help om te identifiseer watter knoppe normaal is as gevolg van hormonale veranderinge en watter knoppe deur ʼn dokter ondersoek behoort te word. Daar is geen spesifieke metode van borsselfondersoek wat bewys is as die beste nie, solank die hele bors ondersoek word, sowel as die vel en die vorm van die borste. Enige veranderinge wat opgemerk word, moet dadelik aan jou dokter gerapporteer word. Meer as 80% van borsknoppe is normaal. ʼn Algemene praktisyn kan die metode van borsselfondersoek aan jou demonstreer.
Jong ouers: Ouderdom 30-40
Vroue behoort voort te gaan met gereelde Pap-smere in ooreenstemming met hul dokter se aanbeveling. Indien jy tevore verhoogde cholesterolvlakke gehad het, behoort jy ʼn hertoets te ondergaan, aangesien te veel cholesterol in jou bloed ʼn hartaanval of beroerte kan veroorsaak. Verseker dat jy jou cholesterol en bloeddruk minstens een keer laat nagaan indien jy in dié ouderdomskategorie val.
Indien daar ʼn familiegeskiedenis van diabetes is, behoort jy gereeld vir dié siekte getoets te word. Dit is dikwels met behulp van ʼn eenvoudige vingerprik, waardeur jou suikervlakke bepaal word. Indien die toets abnormaal is, kan die dokter aanbeveel dat meer toetse gedoen word, afhangend van ander moontlike simptome.
Gevestigde voorsieners: Ouderdom 40-50 Benewens ʼn Pap-smeer behoort vroue ook hul eerste mammogram op ouderdom 40 te laat doen.
Hierdie groep behoort ook te begin om hul cholesterol en bloeddruk gereeld na te gaan. Hoë bloeddruk staan bekend as die “stille moordenaar” aangesien die meeste mense geen sigbare simptome toon nie en nie besef dat hulle hoë bloeddruk het nie, tensy hulle ʼn voorkomende opsporingstoets ondergaan. Verhoogde bloeddruk kan ʼn hartaanval, vergrote hart, beroerte, gebarste aneurisme (waar ʼn uitbulting wat in ʼn aar vorm, bars en interne bloeding veroorsaak) en selfs hartversaking veroorsaak.
Leë nes-kategorie: 50+ In hierdie ouderdomskategorie behoort mans te begin met gereelde prostaatondersoeke, wat ʼn bloedtoets wat die prostaat-spesifieke antigeen (PSA) toets, sowel as ʼn fisieke digitale rektale ondersoek insluit.
Indien die toetse abnormaal is, moet ʼn biopsie gedoen word. PSA is ʼn stof (afskeiding) wat deur die selle in die prostaatklier vervaardig word. Die risiko van kanker verhoog namate die PSA-vlakke styg. Ander faktore wat die PSA-vlakke kan beïnvloed is ouderdom, prostatitis (infeksie of inflammasie van die prostaatklier) of ʼn vergrote prostaatklier. ʼn Digitale rektale ondersoek is nie so nuttig soos ʼn PSA-vlak in die opsporing van kanker nie, maar kan kanker opspoor in mense met ʼn normale PSA-vlak.
Almal in hierdie ouderdomsgroep behoort hul cholesterol en bloeddruk gereeld na te gaan. Vroue moet voortgaan met gereelde Pap-smere en mammogramme.
Nasionale Bloedskenkersmaand
Junie is Nasionale Bloedskenkersmaand en, volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS), kan die skenking van een eenheid bloed die lewens van tot drie pasiënte in nood red. Bloedvoorrade is oor die algemeen laer gedurende die wintermaande aangesien ʼn toename in siektes soos griep en verkoue die aantal persone wat kan skenk verminder. Dus, indien jy gesond is, skenk die maand bloed en red drie lewens. |
|