Twee weke voor die wysigings tot die Wysigingswet op Belasting op 1 Maart 2016 in werking getree het, het die Nasionale Tesourie uitstel tot Maart 2018 ten opsigte van die annuïtisering van voorsorgfondse aangekondig. Die Nasionale Tesourie het ook die vermoë om geld belastingvry van ʼn pensioenfonds na ʼn voorsorgfonds oor te dra uitgestel, aangesien die reëls van hierdie fondse tans nie ooreenstem nie.
Alle ander veranderinge sal nietemin voortgaan:
Verhoging van belastingvrye bydraes
Individue kan nou tot 27,5% van hul totale vergoeding ten opsigte van bydraes tot pensioen-, voorsorg- en aftree-annuïteitsfondse aftrek, onderhewig aan ʼn jaarlikse maksimumperk van R350 000.
Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie aftrekking op alle inkomste van toepassing is, dus, indien jy bykomende inkomste ontvang uit byvoorbeeld beleggings of huureiendom, kan jy 27,5% belastingvry tot ʼn aftreefonds bydra (onderhewig aan die R350 000 perk).
Dit is een manier waarop individue hulle belasbare inkomste kan verminder, veral diegene wat in die boonste twee inkomstekategorieë (verdienste van meer as R550 000 per jaar) val, wat ʼn effektiewe belastingverhoging sou ondervind, aangesien die minister van finansies nie daardie belastingtabelle aangepas het om vir inflasie voorsiening te maak nie.
Dit is onwaarskynlik dat maatskappy-aftreefondse tot die maksimum bydraeperk van 27,5% sal styg, maak dus seker dat jy met jou finansiële adviseur gesels oor die aanwending van ʼn aftree-annuïteit om jou belastingtoegewing te maksimaliseer.
Verhoging in die minimumperk vir annuïtisering
Lede van pensioen- of aftreefondse wat met R247 000 of minder aftree, sal toegelaat word om hul pensioen as ʼn enkelbedrag te neem en sal nie verplig word om ʼn annuïteit te koop nie. Die minimumperk is verhoog van R75 000.
Die toekoms van voorsorgfondse Dit is belangrik om kennis te neem dat die Nasionale Tesourie aangekondig het dat indien ʼn ooreenkoms met arbeid oor die uitbetaling van voorsorgfondse nie teen Maart 2018 bereik is nie, sal hulle die belastingvoordeel van voorsorgfondslede moet hersien om regverdigheid tussen alle aftreefondse te bewerkstellig. In die laaste instansie is dit onregverdig om die lede van een aftreefondsbestel toe te laat om meer regte as ʼn ander te hê en steeds dieselfde belastingvoordeel in terme van belastingvrye bydraes te ontvang.
|