Verhoging in kapitaalwinsbelasting
Vanaf 1 Maart 2016 is die insluitingskoers vir kapitaalwinsbelasting (KWB) vir natuurlike persone van 33,3% tot 40% verhoog, terwyl die uitsluitingsbedrag tot R40 000 per jaar verhoog is.
Dit beteken dat 40% van enige kapitaalwins bo R40 000 by jou belastingopgawe ingesluit en teen jou marginale belastingkoers belas sal word. Individue in die hoogste belastingkategorie van 41% sal ʼn effektiewe belastingkoers van 16,4% betaal. Indien iemand, byvoorbeeld, ʼn marginale belastingkoers van 30% het, sal hul effektiewe kapitaalwinsbelasting 12% wees.
Hierdie verhoging in kapitaalwins maak belasting-effektiewe beplanning ten opsigte van jou langertermynbeleggings selfs nog belangriker, sowel as om die aantreklikheid van belastingvrye spaarrekeninge en aftreefondse soos aftree-annuïteite te verhoog.
Die verhoging in die insluitingskoers vir KWB-doeleindes beteken dat sou KWB betaalbaar wees binne ʼn uitkeerpolisproduk, is die effektiewe koers nou 12%. Dit vergelyk gunstig met die maksimum koers van 16,4% wat geld vir individue wat binne die 41% belastingkategorie val.
Die voorbeeld:
Jy verkoop jou effektetrustfonds van R500 000 waarvan R240 000 kapitaalwins is. Die eerste R40 000 sal vrygestel wees van kapitaalwinsbelasting, wat jou laat met R200 000 belasbare opbrengs.
Hiervan sal 40% (R80 000) ingesluit word by jou belastingopgawe. Indien jou marginale belastingkoers 41% is, sal jy aanpreeklik wees vir R32 800 (41% van R80 000), indien jou marginale belastingkoers 30% is, sal jy aanspreeklik wees vir R24 000 (30% van R80 000). |
Trusts weer in die soeklig
Oor die afgelope vyf jaar het die Nasionale Tesourie die aantreklikheid van trusts as belastingtoevlugsoorde verlaag en vanjaar is geen uitsondering nie met die aankondiging dat die gebruik van trusts om boedel- en skenkingsbelasting te vermy, hersien sal word.
Tans kan trusts gebruik word om bates uit ʼn individu se boedel te skuif en sodoende die waarde van die bate vas te pen vir boedelbelastingdoeleindes, terwyl die gebruik van die bates terselfdertyd behoue bly. Daar word voorgestel dat bates wat na ʼn trust of leningsrekening oorgedra word (d.w.s. sonder dat die trust in werklikheid daarvoor betaal) by die oprigter se boedel ingesluit behoort te word vir boedelbelastingdoeleindes.
Verder behoort enige rentevrye lenings wat aan ʼn trust gemaak word, onderhewig te wees aan skenkingsbelasting. Terwyl ons sal moet wag en kyk wat die wetgewing in die praktyk oor hierdie twee aangeleenthede sal bepaal om ʼn begrip te kry wat die detail en impak sal wees, is dit onmiddellik voor die hand liggend dat dit duurder sal word om welvaart na ʼn trust te skuif.
Kapitaalwinsbelasting op trusts is tot ʼn effektiewe koers van 32,5% verhoog, wat dit baie belasting on-effektief maak om van bates in ʼn trust ontslae te raak. Indien jy tans bates in ʼn trust het of die stigting van ʼn trust oorweeg, maak seker dat jy gepaste advies, wat toekomstige wetlike veranderinge in ag neem, inwin.
Geleentheid om buitelandse bates te verklaar
Met die bekendstelling van FATCA (Foreign Account Tax Compliance Act) en die wêreldwye maatstaf vir die outomatiese uitruil van inligting tussen lande se belastinggesagsliggame, is dit onwaarskynlik dat onverklaarde buitelandse bates nog lank verborge sal bly, met die gepaardgaande ernstige implikasies vir die belastingbetaler. Finansiële adviseurs het voorts ʼn fidusiêre en wetlike verantwoordelikheid om die bestaan van enige onverklaarde bates in hulle kliënte se besit aan die owerhede bekend te maak.
Dit is in hierdie konteks wat die minister van finansies in sy begrotingsrede aangekondig het dat ʼn program van vrywillige openbaarmaking (VDP), ʼn ‘derde amnestie’, ingestel sal word om Suid-Afrikaners met onverklaarde buitelandse beleggings in staat te stel om hul belasting- en valutabeheeraangeleenthede uit te sorteer.
Die spesiale VDP sal vir ʼn beperkte tydperk, naamlik van 1 Oktober 2016 tot 31 Maart 2017, geld.
Belastingimplikasies: Belasting sal slegs verskuldig wees op inkomste wat van 1 Maart 2012 op ongemagtigde buitelandse bates verdien is. Dit beteken dat ʼn belastingbetaler slegs oor vyf jaar terugskouend verslag hoef te doen, wat sekerheid aan die belastingbetaler verskaf.
Die boete: ʼn Heffing van 5% of 10% sal van toepassing wees, afhangende daarvan of die bate in die buiteland gehou word of na Suid-Afrika gerepatrieer word. Die laer heffing van 5% sal van toepassing wees indien jy die bates repatrieer, die heffing van 10% sal geld indien jy die R10 miljoen p.j. beleggingstoelae gebruik om die bates in die buiteland te hou.
Openbaarmaking na die amnestie: Ná die beperkte vensterperiode vir aansoeke, kan die belastingbetaler die Financial Surveilance Unit nader om ongemagtigde bates te verklaar, en die Financial Surveilance Unit kan, in hulle diskresie, heffings van tussen 10% en 40% hef. Sou die bates nie deur die VDP of vrywillig openbaar gemaak word nie, sal die belastingbetaler ten volle kragtens die letter van die wet aanspreeklik wees. |