Maak stres jou siek?

Liberty Adviesdienste

Stres is hoe ons die talle eise van die lewe hanteer. Terwyl goeie stres ons produktiwiteit wesenlik kan verhoog en ons kan help om ons werklading te hanteer, kan ongekontroleerde stres swak gesondheid veroorsaak.

Stres wat nie beheer word nie kan, volgens Liberty Mediese Adviseur Dr Philippa Peil, lei tot siektes soos hartaanvalle en maagsere sowel as oorgewig en diabetes wanneer, soos sy byvoeg, selfs ‘n gewone verkoue en gereelde griepaanvalle tekens van ‘n oorspanne liggaam kan wees.

Liberty se eise-statistieke toon dat stres een van die hoofoorsake van ongeskiktheidseise is, veral ten opsigte van muskuloskeletale en geestesiektes. Kroniese rugpyn is dikwels die resultaat van langdurige stres wat inflammasie in die liggaam veroorsaak, terwyl stresverwante angs kan lei tot meer ernstige geestestoestande soos depressie.

‘n Studie verlede jaar deur die American Institute of Stress in die stad New York het bevind dat ongekontroleerde stres ‘n fisieke impak op meer as 77% mense het, terwyl net meer as 70% sielkundig geaffekteer word. Stresverwante gesondheidsorg en verlore werkure kos werkgewers in die VSA meer as $300 biljoen jaarliks.

Dr Dorrian Aiken, ‘n deeltydse dosent in die vak mentorskap- en leierskapontwikkeling by die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool (USB), beklemtoon dat die negatiewe gevolge van stres die gevolg is van die nie-beheer daarvan eerder as die stres op sigself.

“Stres is nie noodwendig ‘n slegte ding nie, en weliswaar gee dit talle van ons die fokus wat ons nodig het om ‘n belangrike taak te voltooi. Dit is belangrik om te erken dat stres, per se, nie noodwendig sleg is nie,” sê Aiken wat byvoeg dat die baanbreker endokrinoloog Hans Selye, wat die eerste persoon was om stres as ‘n fisieke toestand te defineer, opgemerk het: “Sonder stres, sal daar geen lewe wees nie.”

Die uitdaging is om balans te kry, om genoeg stres te hê om optimaal te presteer, maar met genoeg tyd om te rus en te herstel. Indien stresvlakke ongekontroleerd gelaat word, kan dit die chemiese samestelling in ons liggame verander en siektes veroorsaak. Aanhoudende stres stel hoë vlakke van kortisol en adrenalien in ons liggame vry wat ons immuunstelsel verlaag namate ons liggame die voortdurende produksie van nuwe selle stop.

Hoe om stres te beveg

Die aanvanklike simptome van stres kan ‘n toename of afname in aptyt, hoofpyne, uitputting en slaapafwykings insluit. Wanneer individue angstig raak en sukkel om stres te beheer, raak dit vir hulle onmoontlik om daaglikse probleme te hanteer en kan hulle selfs die kluts kwyt raak.

“Uitstel, die onvermoë om besluite te neem, om deur hul werklading oorweldig te word en om te begin onttrek, is aanduidings van uitbranding. Daar is ook ‘n gevaar van die misbruik van medikasie – veral die misbruik van oor-die-toonbank medikasie soos slaappille – wat opgevolg word met ‘n ander tablet om hulle te help om in die oggend wakker te word,” sê Aiken.

Indien jy enige van díe simptome herken, is dit ‘n teken dat jy na jou liggaam moet begin luister. Jy moet jouself fisiek en geestelik versorg sodat jy stres kan beheer sodat dit tot jou voordeel werk en jou nie vernietig nie:

Skep gesonde gewoontes: Maak gereelde oefening deel van jou roetine – selfs al is dit net ‘n halfuur se stap daagliks. Vind ‘n stokperdjie wat jou aandag volkome van jou werk en ander stresvolle dinge aflei.

Neem verlof: ‘n Onlangse studie deur Ipsos Global en Reuters het bevind dat soveel as 53% van die land se werkende bevolking nie hul jaarlikse verlof neem nie en dat dit aanleiding gee tot toenemende stresvlakke. Om verlof te neem, is nie net belangrik vir individue nie, maar ook vir hulle families.

Mediteer: Studies het bevind dat die volgehoue beoefening van meditasie verlaagde immuunfunksie kan verbeter. “Sommige van die simptome van uitbranding is toenemende spierpyne en inflammasie van die gewrigte, wat dikwels onderbroke slaap as gevolg van volgehoue liggaamsongemak veroorsaak. Dit is bewys dat meditasie die vlakke van pro-inflammatoriese gene verminder, wat lei tot versnelde fisieke herstel van stresverwante toestande,” sê Dr Aiken.

Neem aksie: Identifiseer watter areas van jou lewe stres veroorsaak en fokus een vir een daarop. Indien jy byvoorbeeld finansiële probleme het, maak ‘n afspraak met ‘n finansiële adviseur om jou te help om ‘n finansiële plan op te stel om jou finansies te orden. Dr Aiken stel voor dat jy jou familie betrek om jou daaglikse verantwoordelikhede te deel; ook dat jy grense stel, beide persoonlik en in die werkplek.

Identifiseer ‘n mentor:Dr Aiken sê ‘n goeie begin is om ‘n goeie mentor te identifiseer, iemand wat jy kan vertrou om jou te help om sommige van die – waarskynlik onware – aannames oor jouself wat veroorsaak dat jy jouself verby ‘n gesonde vlak van uithouvermoë dryf, te ondersoek.